En die gelukbringer se naam is … Georgie!

Die geliefde GO GEORGE-gelukbringer het uiteindelik ‘n naam. Dit volg op die naamgeekompetisie waaraan die publiek kon deelneem deur moontlike name vir die oulike buskarakter voor te stel. Verreweg die meeste deelnemers het voorgestel dat hy Georgie genoem word.

Tydens ‘n paneelbespreking oor die naam verlede week, is George se direkteur van siviele ingenieursdienste, Harold Basson, versoek om ‘n wenner te trek uit die hoed vol name van al die deelnemers wat hierdie naam voorgestel het. Die gelukkige wenner van die naamgeekompetisie is Anneke Andrews wat ‘n GO GEORGE-toerygsakkie met GO GEORGE-promosie-items en ‘n multiritkaartjie van George se uitvoerende burgemeester, rdl. Melvin Naik ontvang het.

Anneke en haar gesin het ‘n paar jaar gelede na George verhuis en was hoogs in hul skik om te hoor dat ‘n busdiens van hierdie kaliber binnekort in hul nuwe tuisdorp ontplooi sou word. “Ons geniet ritte op die GO GEORGE-busse en sal beslis ons multiritkaartjie goed aanwend,” sê sy.


Previous Article

Next Article