GO GEORGE bemagtig leerders om beste roete te gebruik

George Hoer

Sommige leerders van George Sekondêre Skool het nie besef hulle kan ook die Pacaltsdorp – Garden Route Mall-bus (Roete 12) neem en by die Mall oorklim op ’n Rosemoor-bus nie. Die drie jong dames woon almal in Pacaltsdorp en gaan dié opsie toets. Hulle is, van links, Meagan Rondganger, Chanal-Lee Titus en Jenny-lee Samuels.

GO GEORGE het die afgelope maand skole regoor die dorp besoek om leerders wat die busdiens gebruik te help met roetebeplanning.

Skoolkinders is ’n belangrike komponent van die passasiers wat daagliks die GO GEORGE-busdiens gebruik, met meer as 600 van hulle wat bus ry skool toe. Hoewel hulle teen dié tyd baie goed weet hoe om by die skool uit te kom, het die kommunikasiespan van die busdiens agtergekom dat almal dalk nie weet van die verskillende opsies ten opsigte van roetes nie, en ’n uitgebreide roetebeplanningsveldtog afgeskop.

Outeniqua Primer

Nou ken ons die busroetes op die punte van ons vingers! Van links: Joshua Maralack, Shaynell Williams, Daniel Maxam, Kyle Brinkhuys en Wilmur Rhode het almal die opvoedkundige besoek van GO GEORGE baie geniet.

“Ons het leerders sien wag vir busse wat heel waarskynlik reeds vol sal wees wanneer dit hulle bereik, terwyl ander, geriefliker roetes beskikbaar is,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Komende uit ’n agtergrond van skool toe ry met ’n taxi of skoolbus wat net een roete ry, het hulle nie besef dat hulle nou ’n keuse het en dat die netwerk van roetes hulle verskeie opsies gee nie.”

PW Botha

PW Botha-kollege is die skool met die meeste leerders wat bus ry skool toe. Hier kyk Kaydin Jansen van Delvillepark (links) en Brunay Pietersen van New Dawn Park watter verrassings hul GO GEORGE-rugsakkies inhou. Elke leerder het ’n sakgids met die tydroosters, ’n sonskerm en ’n veeldoelige pen ontvang.

Die span het weggespring met ’n opname om te bepaal hoeveel leerders in elke skool die busdiens gebruik, en uit watter woongebiede hulle skool toe ry. ’n Unieke kaart wat die verskillende opsies skool toe en terug huis toe uitbeeld, is vir elke skool saamgestel en tydens ’n opvolgbesoek uitgedeel en bespreek met die jong passasiers.


Previous Article

Next Article