GO GEORGE brei Rosemoor- en Loeriepark-roetes uit

‘n Laaste stel roeteverfynings vir die jaar word op Sondag, 20 November 2016, deur GO GEORGE ingestel. Meer en vinniger roetes word by die Rosemoor-diens gevoeg, terwyl die Loeriepark-roete uitgebrei word tot by die Garden Route Mall.

Die hele bestaande stelsel word verfyn volgens die jongste resultate ná intensiewe monitering van aanvraag en passasiersgetalle op alle roetes.

“Ons doen baie moeite om die boodskap oor die roeteveranderings aan passasiers oor te dra, en hulle in te lig hoe die veranderings en verbeterings hul daaglikse reisroetine gaan raak,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Buiten plakkate met volledige roetebeskrywings, tydskedules en kaarte by al die betrokke bushaltes, versprei ons ook Trip Tip-pamflette wat passasiers byderhand kan hou en kan raadpleeg wanneer hulle onseker is. Ons kommunikasiespan maak terselfdertyd kontak met ondernemings langs die deel van Knysnaweg waar werknemers van volgende week af alternatiewe busse op hierdie roete sal moet gebruik.”

Roete 24 Loeriepark sal voortaan nie meer langs die gedeelte van Knysnaweg tussen Nando’s en Pine Lodge ry nie, maar deur die woonbuurt, met Saasveldweg af tot waar dit links draai in Knysnaweg na die Mall toe. Die rit terug dorp toe loop langs dieselfde roete. Passasiers wat tot dusver die bushaltes naby Checkers en Pick n Pay gebruik het, kan voortaan die nuwe Roete 53A Rosemoor gebruik. Hierdie bus ry gedurende spitstye (oggend en namiddag) Mall toe met Knysnaweg langs. Die res van die dag is Roete 7 CBD – Garden Route Mall ‘n ander opsie.

Robb doen ‘n beroep op werkgewers langs hierdie roete om die GO GEORGE-inligtingsveldtog te ondersteun deur hul werknemers bewus te maak van die verandering. “Ons dek reeds daardie roete, maar sal met graagte Trip Tips gaan aflewer of met werknemers praat as ons sulke versoeke ontvang. Versoeke kan gerig word deur ons inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel. Werkgewers is ook welkom om ons te skakel om enige kwessies rakende die verfynings, wat hul werkers raak, te bespreek,” sê hy.

Rosemoor-passasiers kan uitsien na die toevoeging van twee nuwe roetes en ‘n effense verandering aan die oorspronklike Roete 53. Terugvoer van passasiers dat nie almal nodig het om met die uitgebreide Roete 53 langs te ry nie, het tot hierdie veranderings gelei, asook die voltooiing van die pad tussen die Garden Route Mall en Rosemoor, agterom Eden Meander, wat nou daardie roete oopmaak vir gebruik deur die busse.

Die twee nuwe roetes, 53A en 53B, is korter roetes. Roete 53A sal passasiers se behoeftes aanspreek op weeksdae, slegs gedurende spitstye, met ses ritte tussen 05:15 en 09:00, en weer tussen 15:40 en 19:25. Roete 53B ry net op Saterdae en maak dit gerieflik vir Rosemoor-inwoners om middedorp toe of Garden Route Mall toe te gaan vir inkopies.

Passasiers word aangeraai om hul ritte vooraf te beplan met behulp van die inligtingsmateriaal wat uitgedeel is en in die media gepubliseer is, asook die plakkate by die bushaltes. “Die agente by ons inbelsentrum is daagliks beskikbaar vanaf 05:00 – 21:30, so diegene wat hulp nodig het, moet asseblief van hul diens gebruik maak,” sê Robb. “Sorg dat jy nie onverhoeds gevang word nie – beplan eers en bel ons om seker te maak voordat jy die huis verlaat.”


Previous Article

Next Article