GO GEORGE dienste in gedrang

JONGSTE – 11 September: Hoewel die GO GEORGE-diens steeds ernstig belemmer is, het 23 busse vandag op die hoofroetes geloop, danksy tydelike bestuurders wat deur George Link in diens gestel is. Opleiding van tydelike bestuurders met die vereiste kwalifikasies vind tans plaas.

“Ons bedank die klein groepie toegewyde bestuurders en ander gekwalifiseerde operasionele personeel wat nie staak nie, sowel as hierdie bestuurders wat na vore gekom het om uit te help en die beperkte diens uit te brei. Ons sal dit waardeer as nog gekwalifiseerde bestuurders met George Link sal kontak maak. Ons was vandag reeds in staat om meer passasiers as op die vorige twee dae te vervoer,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Teen Maandag behoort sake beslis beter te lyk as Vrydag, maar dit sal ongelukkig steeds nie naby aan normaal wees nie.”

Robb doen ‘n beroep op passasiers en padgebruikers om geduldig te wees met die tydelike bestuurders wat dalk mag foute maak, aangesien hulle nie vertroud is met die busroetes en bedryfsprodedures nie. “Hulle sal egter vaardige, gelisensieerde bestuurders wees, so passasiers se veiligheid is nie op die spel nie.”

Die roetes wat tans gediens word, is 1A (Harmony Park – CBD), 1B (New Dawn Park – CBD), 60 (Rosedale/Syferfontein), 2 (Blanco – CBD), 7 (Garden Route Mall – CBD), 14 (Pacaltsdorp – Industria, slegs spitstye) en 53 (Rosemoor – CBD). Tot verdere kennisgewing sal die laaste busse van die dag om 20:00 vertrek.

George Link versoek bestuurders wat beskik oor ‘n Kode 10- of 14-lisensie en ‘n geldige professionele bestuurspermit (PDP) om passasiers te vervoer, om hulle te skakel by 044 873 4803.


9 September: GO GEORGE lig passasiers graag in dat, weens die beperkte diens wat tans verskaf word, die finale vertrektye van busse vanaand weer om 20:00 sal wees.


9 September: TYDELIKE BESTUURDERS INGEBRING

Hoewel die GO GEORGE-busdiens steeds ontwrig word deur die onwettige busbestuurderstaking sedert gister, 8 September 2016, het George Link GO GEORGE ingelig dat hulle besig is om tydelike bestuurders te werf en dat die aantal busse verhoog is na 16. Die eerste groep tydelike bestuurders is reeds aangestel en nog ‘n groep sal na verwagting vanmiddag aangestel word. Die uitdaging is om gekwalifiseerde, gelisensieerde bestuurders te vind wat die roetes ken en oor die vereiste produksertifisering beskik. George Link versoek bestuurders wat beskik oor ‘n Kode 10- of 14-lisensie en ‘n geldige professionele bestuurspermit (PDP) om passasiers te vervoer, om hulle te skakel by 044 873 4803.

Roetes 1A, 1B, 60, 2, 7, 14 (slegs tydens spitstye) en 53 word tans gediens.

Weens die beperkte diens sal die normale skedules nie gevolg kan word nie. GO GEORGE poog om die besigste roetes te diens en sodoende soveel moontlik passasiers te vervoer. Roete 14 word net tydens spitstye bedien. Aangesien kapasiteit beperk is, moedig ons graag passasiers wat alternatiewe vervoerreëlings kan tref, aan om dit te doen totdat normale diens hervat word.

Terwyl George Link hom daarop toespits om die kwessie op te los, maak GO GEORGE weereens verskoning teenoor alle passasiers en die gemeenskap vir hierdie ernstige ontwrigting en ongerief, en verwelkom George Link se noodmaatreëls.


8 September: GO GEORGE lig passasiers graag in dat, weens die beperkte diens wat tans verskaf word, die finale vertrektye van busse vanaand om 20:00 sal wees. GO GEORGE bedank graag George Link en die klein groepie toegewyde busbestuurders wat van vroeg vanoggend af ingespring het en tans 11 busse op die hoofroetes bedryf.


8 September: GO GEORGE betreur die aankondiging dat die GO GEORGE-diens steeds ernstig in die wiele gery word Donderdagmiddag, 8 September, sowel as Vrydag 9, September 2016 weens die onwettige staking deur George Link-busbestuurders. ‘n Baie beperkte diens sal op hoofroetes gelewer word. GO GEORGE stel voor dat passasiers gebruik maak van alternatiewe vervoer waar moontlik. GO GEORGE maak verskoning vir die ontwrigting en die hewige impak wat hierdie onbeplande staking op skole, sakeondernemings, passasiers en die gemeenskap het.