GO GEORGE neem daal aan gemeenskap-pretdag

Amazing Race eerste stop

Amazing Race-deelnemers het in vrolike luim by die eerste bushalte op hul roete opgedaag. Dit was voordat hulle agtergekom het dat hulle buskaartjies nog by die vertrekpunt is.

Skaars een week nadat kleurvolle GO GEORGE-personeel die busdiens se derde verjaarsdag oral langs die strate van die dorp gevier het, is ewe interessante karakters in Pacaltsdorp op die busse opgemerk op Versoeningsdag, Saterdag 16 Desember. Hierdie keer was die opgewonde passasiers egter deelnemers aan ’n Amazing Race-wedloop, gereël deur plaaslike radiostasie, Heartbeat FM, as deel van hul Gesinspretdag by Pacaltsdorp-hoërskool.

Amazing Race wenners

En die wenners van die GO GEORGE Amazing Race wat op Versoeningsdag in Pacaltsdorp
gehou is, is… die Vollies! Die wenspan het baie in hul skik met hulself en hul prys-items saam met van die organiseerders geposeer. Voor, van links, is Jayden Kammies, Grenville
Julies, Deonlin Sampson, en Ferdie Geduld (GO GEORGE Champion). Agter, van links, is, Karen Lamberts (GO GEORGE), Donovan Julies, Michael Jaftha, en Lucinda Orie
(bestuurder: Heartbeat FM).

GO GEORGE is deur die organiseerders genader om deel van die wedloop te wees, sodat deelnemers die gewone geskeduleerde busse kon haal na die punte wat deur die leidrade aangedui is. Wedloopbeamptes het die leidrade by spesifieke bushaltes aan die deelnemers uitgedeel. Sommige spanne het in vrolike kostuums opgedaag, terwyl ander soos ernstige atlete gelyk het met net die regte sporttoerusting om hul teenstanders te intimideer.

Alle deelnemers het ’n GO GEORGE-toerygsakkie met water, ’n sonskerm, en ’n handige sakgids met roetekaarte en tydroosters ontvang. Oral langs die pad is spanne in intense bespreking rondom die roetekaarte opgemerk.

Lede van die wenspan, die Vollies, het elkeen ’n GO GEORGE-inkopiesak met ’n GO GEORGE-pet, T-hemp, pen- en potloodstel, sambreel, kombers en een multiritkaartjie met 10 ritte ontvang.


Previous Article

Next Article