GO GEORGE-roetes gedurende George-Liggiesfees

 

GO GEORGE sal sekere aanpassings maak aan roetes om die jaarlikse Liggiesfees eerskomende Saterdag, 3 Desember 2016, te akkommodeer.

Yorkstraat sal Saterdag vanaf 12:00 tot middernag gesluit wees tussen Hiberniastraat en die sirkel voor die George-museum. Die Denneoord-, Rosemoor- en Pacaltsdorp-roetes sal gevolglik vanaf 12:00 daardie deel van Yorkstraat en die Cathedral A-bushalte uitskakel.

Roete 56R Denneoord (antikloksgewys) sal uit Caledonstraat links draai in Courtenaystraat, deur die sirkel ry en regs draai in Meadestraat pleks van Yorkstraat, waarna dit links sal draai in Markstraat en op die gewone roete na die vervoerkern sal ry. Die kloksgewyse roete Denneoord toe sal dieselfde roete terug volg.

Rosemoor se roetes 53 en 53B sal uit Courtenaystraat in Meadestraat links draai pleks van in Yorkstraat, weer links in Markstraat en dan op die normale roete tot by die Rosemoor-bushalte in Cradockstraat.

Roetes 1A, 1B en 60 uit Pacaltsdorp sal uit Yorkstraat regs draai in Markstraat, links in Meadestraat en regs in Courtenaystraat vanwaar die normale roetes gevolg sal word.

Inwoners word aangemoedig om van die busdiens gebruik te maak om die feesviering in Yorkstraat en by Eenheidspark by te woon. Die naaste bushalte vir passasiers uit Pacaltsdorp sal York B langs Protea Apteek in Markstraat wees. Rosemoor-passasiers kan by die Wellington-bushalte langs George-voorbereidingskool afklim, terwyl Denneoord-passasiers die naaste aan die feesterrein sal wees deur by die George-biblioteek af te klim.

Neem egter asseblief kennis dat die busse volgens die normale Saterdag-skedule sal ry en dat die laaste ritte van die dag sal vertrek voor die einde van die fees, wat eers om 22:00 is.

Vir verdere navrae, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 of stuur ‘n e-pos na info@gogeorge.org.za.


Previous Article

Next Article