GO GEORGE rond roeteverfynings af

Teen Dinsdag het passasiers die nuwe roetes gesnap en getuig hoe gerieflik dit is om nader aan die werk op- en afgelaai te word. Personeel wat by MediClinic en die Tuiniqua-ouetehuis werk, was veral baie in hul skik met die busse wat omtrent by hul voordeur stop. Hier laai die bus vanaf New Dawn Park passasiers af by die Cathedral A-bushalte voor die Arts Theatre, 'n klipgooi van MediClinic af.

Die wydgepubliseerde verfyning van die Pacaltsdorp-busroetes in die middedorp is op Sondag, 6 November 2016 geïmplementeer. GO GEORGE-personeel is dié week tydens spitstye by die besigste oorklimhaltes ontplooi om passasiers te lei om by die regte bushaltes af te klim vir hul nuwe oorklimpunte.

“Ons het veldmonitors, waarnemers en operasionele personeel op die roetes om passasiers by te staan en behoefte te evalueer, veral op die nuwe 1A-blitsroete wat hierdie week vir die eerste keer loop,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Ons waardeer passasiers se terugvoer wanneer ons stelselveranderings aanbring, en kan hulle verseker dat hul kommentaar daagliks geëvalueer word. Dit het ons reeds gehelp om fyn verstellings wat hul ervaring sal verbeter, te maak. Ons gee spesiale aandag aan probleemgebiede wat deur passasiers uitgewys word, en moniteer die roetes konstant,” sê hy.

“Met roete 60 wat nie meer Syferfontein toe ry nie, is ‘n nuwe rit wat elke weeksoggend om 06:30 by die Batallion-bushalte vertrek, byvoorbeeld nou bygevoeg. Dit gee Syferfontein- en Dellville Park-passasiers die geleentheid om direk in te ry dorp toe sonder om op ‘n ander bus oor te klim. Hierdie roete, wat net hierdie een rit elke oggend doen, gebruik ‘n midibus wat 40 sittende en 38 staande passasiers, plus een rolstoel kan dra. Dit ry deur Dellville Park na Beachweg en dan middedorp toe.

By sommige bushaltes, byvoorbeeld die Market-halte voor die poskantoor, is meer stilhouplekke gebou om die aantal roetes wat voortaan daar gaan stop, te akkommodeer. Passasiers word herinner om by sulke bushaltes op die uitkyk te wees vir die toepaslike halte vir oorklim op ‘n aansluitingsroete. Die naam van die oorklimroete sal op die bushaltenaambord verskyn.

Vir passasiers se gerief en duidelikheid is plakkate met die vertrektye van roetes waaroor hulle onseker voel, vandeesweek by die bushaltes op hierdie roetes aangebring. In die middedorp is plakkate met ‘n lys van die roetes waarop oorgeklim kan word by die besige oorklimbushaltes bygevoeg.

Slegs die drie hoofroetes uit Pacaltsdorp middedorp toe, roetes 1A New Dawn Park, 1B Harmony Park en 60 Rosedale, het van roete verander wanneer dit in die dorp kom en dek nou ‘n wyer gebied van die middedorp. Alle ander roetes waarop Pacaltsdorp-passasiers kan oorklim, vertrek steeds volgens hul ou skedules en roetes vanuit Cradockstraat en kruis met die nuwe roetes.

Skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 vir hulp met ritbeplanning of enige ander busverwante inligting.


Previous Article

Next Article