GO GEORGE se derde verjaarsdag vreugdevol gevier

Champions 3de verjaarsdag

Motoriste het vrolik gereageer op die GO GEORGE champions (passasiersdiensbeamptes) se uitnodiging om te toet om die busdiens se verjaarsdag te vier. Hierdie groep was die regte kampioene van die dag deur Vrydag se geweldige hitte in hul kostuums te trotseer om die hele gemeenskap in ’n feestelike luim te kry.

Verjaarsdagbaniere op strategiese plekke in die dorp, GO GEORGE-personeel in helderkleurige kostuums, pompoms en plakkate met verjaarsdagboodskappe, raserige fluitjies… As George-inwoners en vakansiegangers nie reeds in ’n feestelike luim was nie, was hulle dit verseker ná ‘n draai deur die dorp op Vrydag 8 Desember 2017, die GO GEORGE-busdiens se derde verjaarsdag.

GG champions by winkelsentrum

Die champions het die vreugde ook na die Garden Route Mall en Eden Meander geneem, met vakansiegangers wat vrolik getoet het in die verbyry, of hulle geweet het wie of wat GO GEORGE is of nie.

Motoriste het meelewend gereageer met ’n vrolike getoet en gewuif, in erkenning van hierdie grootse prestasie vir die stad George.

GIPTN personeel

Etlike personeellede van die GO GEORGE-kantoor het by die Yorkstraatsirkel opgedaag, fluitjies geblaas en plakkate gewaai om ’n glimlag op verbygaande motoriste se gesigte te sien. Die vier manne wat hulle gate uit geniet het, is van links, Buyisile Vanqa en Thobela Bentswana, albei kontrakadministrateurs, Morné Lakay, adjunkbestuurder, GO GEORGE, en James Robb, GO GEORGE-bestuurder.

Die GO GEORGE-span het die kinders by Life Community Services se sentrum in Parkdene verras met ’n besoek van almal se gunsteling-buspersoon, die gelukbringer Georgie, en ’n hele vrag groen en blou kolwyntjies.

GIPTN personeel deel kolwyntjies uit

GO GEORGE-personeellede het saam met Georgie beweeg en ’n hul besoek aan Life Community Services se sentrum in Parkdene baie geniet. Die span het groen en blou kolwyntjies saamgebring en uitgedeel aan die kleingoed.

“Daar was nie ’n beter manier om ons verjaarsdag te vier, as om ons vreugde met hierdie kleingoed te deel nie,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Om hulle uit volle bors te hoor sing ‘Happy birthday, dear GO GEORGE’, het ons harte warm gemaak en die kersie op ons verjaarsdagkoek geplaas.”

Life kinders geniet kolwyntjies

Tjoepstil tot die skinkbord met kolwyntjies by hulle uitkom, kon hierdie patroontjies nie langer wag om weg te val aan die soet versiering nie.

Georgie by Happy Feet

Georgie kon hom nie daarvan weerhou om gou oor die straat te glip na Happy Feet, Life se vroeë-kindontwikkelingsentrum waar hy ’n swempartytjie onderbreek het nie. Die kleingoed het aanvanklik gejil en gewuif van plesier, maar die oomblik toe Georgie tussen die opblaasswembadjies inloop, het die hele spulletjie uitgespring en na hul juffrouens toe gehardloop, asof ’n groot haai die baai binnegekom het! Dit het heelwat Georgie-sjarme geverg om hul vertroue te wen.


Previous Article

Next Article