Impak van padopgraderings op GO GEORGE

Grootskaalse opgradering van verskeie paaie in George sal ’n impak hê op padgebruikers en die GO GEORGE-busdiens vir die volgende paar maande. Die opgraderings sal oor ’n tydperk versprei word, met werk in Courtenaystraat wat eerste afskop in Mei, en na verwagting klaar sal wees teen die einde van Julie 2018.

Courtenaystraat word opgegradeer vanaf die spoorwegbrug tot by die Yorkstraatsirkel. Fase een behels werk aan die buitenste bane in albei rigtings, gevolg deur ’n nuwe dralaag oor al vier bane gedurende fase twee. Die impak op verkeer gedurende die dag sal minimaal wees aangesien slegs ’n gedeelte van een laan oornag vanaf 18:00 tot 06:00 gesluit sal word.

Tydelike bushaltes

Tydelike bushaltes sal voorsien word wanneer nodig gedurende hierdie tyd. Busverkeer in die aand in Courtenaystraat behoort nie ernstig ontwrig te word nie, maar GO GEORGE- passasiersdienspersoneel sal by die geraakte bushaltes wees om passasiers na die tydelike haltes te herlei. Hierdie haltes sal sigbaar aangedui word met geel tydelike halte-tekens.

Ry versigtig

Daar mag ’n 30-mm verskil in die hoogte van die padoppervlak tussen seksies wees gedurende fase een van die projek. Padgebruikers word gemaan om versigtig te wees wanneer hulle van baan verander, en ook in nat toestande wanneer die fase een-padoppervlak glibberig mag wees. Die George-munisipaliteit maak verskoning vir die ongerief en doen ’n beroep op padgebruikers om geduldig en versigtig te wees naby die padwerke.


Previous Article

Next Article