Kaartjies

1. Hoeveel kos ‘n kaartjie, en hoe word dit bereken?

’n Enkelkaartjie wat vooraf by verkoopspunte gekoop word, kos tans R9.00, en ’n kaartjie wat op die bus gekoop word, R10.00. Hierdie prysverskil is ingestel om passasiers aan te moedig om hul kaartjies te koop voordat hulle op die bus klim. Dit sal tyd bespaar en help om die stelsel op skedule te hou. Multiritkaartjies (geldig vir 10 ritte) kos R85.00 Die busdiens word op ’n afstandgebaseerde kostestelsel bedryf, en die kaartjieprys is gekoppel aan die minimum loon van ’n huiswerker, soos deur die departement van arbeid bepaal. Die kosteberekening neem die vermoë van ’n stedelike huiswerker (wat teen minimumloon werk) om die koste van openbare vervoer te bekostig, in ag. Hierdie “vermoë” word gebaseer op die nasionale doelstelling dat nie meer as ’n sekere persentasie van ’n individu se maandelikse inkomste aan vervoer spandeer behoort te word nie. Al die roetes wat tot dusver geïmplementeer is, val binne die kortste afstand-band (15 km), sodat alle ritte R9.00 of R10.00 sal kos, of R8.50 indien ’n multiritkaartjie gebruik word. Vir ritte langer as 15 km, sal die koste met elke 5 km meer verhoog. Hierdie kaartjiepryse word deur die regering gesubsidieer en is nie die ware koste van vervoer nie. Pryse sal jaarliks aangepas word.

2. Hoe koop ek ‘n kaartjie? Kan ek met my debietkaart betaal?

Enkelkaartjies kan slegs met kontant gekoop word op alle GO GEORGE-busse. Passasiers word versoek om die presiese bedrag (R10) gereed te hou wanneer hulle kaartjies op die bus wil koop, om die busbestuurder se taak te vergemaklik en tyd te spaar. Multirit- én enkelkaartjies kan by verkoopspunte en mobiele verkopers gekoop word teen ’n laer prys as op die bus (sien punt 1). Indien die verkoopspunt kaartfasiliteite het, sal jy met ’n debietkaart kan betaal. Om op die bus te ry, moet elke passasier sy/haar eie kaartjie hê. ’n Slimkaart-stelsel word vir die toekoms beplan.

3. Kan my kinders saam met my ry op my kaartjie?

Nee, elke passasier het sy/haar eie kaartjie nodig. As jou kind 4 jaar of ouer is, gaan hulle hul eie kaartjie moet hê.

4. Wat is ‘n multiritkaartjie?

Die goedkoper en geriefliker GO GEORGE-multiritkaartjie word by geregistreerde verkoopspunte en mobiele verkopers regoor die dorp verkoop. Hierdie kaartjie kos tans R85 en is geldig vir 10 ritte binne 30 dae van die datum van aktivering, vir een uur nadat die kaartjie geknip is, en binne ’n radius van 15 km. Hierdie is ’n besparing van 50c per rit, vergeleke met die enkelkaartjie wat R9.00 kos wanneer dit buite die bus gekoop word, en R1.50 teenoor die koste van die enkelkaartjie wat op die bus gekoop word (R10.00). Die bykomende gerief van die multiritkaartjie is dat jy net een keer koop vir ’n tydperk, nie kontant hoef saam te dra nie, en dat dit die opklimproses op die bus versnel.