Vervalste buskaartjies steek kop uit in Pacaltsdorp

Regte en vervalsde kaartjies

Die verskil tussen die ware GO GEORGE-multiritkaartjie (links) en die vervalste namaaksel (regs) is maklik om te sien. Buiten dat dit op glanspapier met ’n duidelike verskil in kleur gedruk is, is die vals kaartjies ’n slordige knip- en plak-poging.

’n Reeks vervalste GO GEORGE-multiritkaartjies het kop uitgesteek op busroetes in Pacaltsdorp. Passasiers wat hierdie power namaaksels teen R60 pleks van die normale R85 gekoop het, dra nou die gevolge van hul winskoop wat hulle toegang tot ’n GO GEORGE-bus weier wanneer ’n duidelik vervalste kaartjie aangebied word.

GO GEORGE-bestuurder, James Robb, doen ’n beroep op passasiers om oplettend te wees en seker te maak dat hulle buskaartjies slegs by geregistreerde verkopers koop.

“Aanvanklik was ons baie ontsteld dat ons passasiers die slagoffers geword het van uitbuiting, maar toe ons eers van die vervalste kaartjies in die hande kry en boonop hoor dat hulle nie teen die wettige prys aangekoop is nie, het ons besef die saak is nie so eenvoudig nie. Eerstens sal wettige GO GEORGE nooit teen ’n afslagprys verkoop word nie, en tweedens is die kaartjies so ‘n swak nabootsing van die ware jakob dat ons nie meer die kopers as slagoffers beskou nie, maar as medewerkers in ’n bedrieglike poging om ’n goedkoop rit met ’n duidelik vervalste kaartjie te kry,” sê Robb.

“Vind die verskille”

Volgens Robb is dit nie moontlik dat ’n gereelde passasier die namaaksel met die regte kaartjie kon verwar nie. “Om enige pogings tot kopiëring van ons kaartjies teen te werk, is die multiritikaartjie juis ontwerp met ’n ingelegde foelieblokkie met die GO GEORGE-kenteken daarop. Dit blyk dat hierdie foelieblokkies van ou kaartjies af gekrap is en vasgegom is op die gefotostateerde kaartjies wat oneweredig met ’n skêr uitgeknip is, en waarvan die voor- en agterkant aan mekaar vasgeplak is. Sommiges bestaan uit ’n enkellaag papier, met geen drukwerk op die agterkant nie. Een ding wat al die vervalste kaartjies tans in ons besit egter gemeen het, is die kaartjienommer 81396.”

Robb versoek die publiek om die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel met enige inligting oor die vervalsers en verkopers van die vals kaartjies. Alle GO GEORGE-personeel, busbestuurders ingesluit, is op die uitkyk vir die sondebokke en vervalste kaartjies, en sal enigeen wat daarmee probeer bus ry, toegang weier. GO GEORGE sal nie huiwer om op te tree teen enige persone wat deelneem aan ‘n bedrieglike skema nie.


Previous Article

Next Article