Die noodhulpwerker op die toneel kan ’n pasiënt met beenbreuke stabiliseer deur ’n tydelike spalk aan te bring. Nolubabalo Ntsendwana hou fyn dop terwyl instrukteur Veronique Plaatjies die prosedure op Lizo Sifuba demonstreer.
Om die vaardighede van personeel wat direk in kontak met passasiers kom, uit te brei, het GO GEORGE hierdie personeellede ingeskryf vir ’n Vlak 1-noodhulpkursus wat hulle pas afgehandel het.
“Dit het noodsaaklik geword om ons personeel te bemagtig om passasiers doeltreffend by te staan in noodsituasies,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Ons het verskeie voorvalle gehad waar passasiers siek word en ons ‘Champions’ wat op die busse en by die bushaltes werk, moes ingryp en paramediese dienste ontbied. Selfs die personeel in ons inbelsentrum en bedryfskamer roteer en werk soms in die veld, dus het ons hulle ook ingeskryf. Met die nuutverworwe kennis kan ons personeel nou die pasiënt so gemaklik moontlik maak totdat professionele hulp opdaag.”
Die kursus het onderwerpe soos noodtoneelbestuur, kardiopulmonêre resussitasie (KPR), verstikking, skok, mediese toestande, bloeding en wonde, been- en gewrigsbeserings, en hoof- en spinale beserings ingesluit. Die tipiese mediese toestande waarmee die GO GEORGE-champions te doen kry (epilepsie, floutes, neusbloeding en diabetiese noodtoestande) was alles deel van die opleiding, terwyl hulle nou ook weet wat om te doen in die geval van ’n hartaanval of beroerte.