GO GEORGE logo
Customer care hotline
[wpavefrsz-resizer]

GO GEORGE vier nege jaar diens aan die gemeenskap

Die Rosemoor-roete was een van die eerstes wat in Desember 2014 uitgerol is. Vandag is daar 34 busroetes wat gemeenskappe regoor die dorp oor ’n afstand van 145 km bedien.

Met die viering van nege jaar se diens aan die gemeenskap van George is daar vanjaar ‘n ekstra huppel in die stap van alle belanghebbendes by GO GEORGE, aangevuur deur die langverwagte byvoeging van Thembalethu op die lys van gemeenskappe wat  die voordeel van die busdiens kan geniet. 

Nege jaar gelede op 8 Desember 2014 het die busdiens vier roetes uitgerol met 14 pragtige busse wat oë laat rek en harte trots laat klop het wanneer die lang, blink lywe in die strate van George afry. Agt maande later is 35 minibusse met hidrouliese hystoestelle vir rolstoele by die vloot gevoeg. Die minibusse is spesiaal vir GO GEORGE ontwerp en gebou en is steeds die enigste minibusse in openbare diens in Suid-Afrika wat oor hierdie fasiliteit beskik. 

Vandag word die busdiens oor 145 km op 34 roetes bedryf met 54 standaardbusse, 33 midibusse en 35 minibusse wat die strate van George deurkruis en inwoners in staat stel om werk en skool toe as ook na mediese- en gemeenskapsdienste en winkels oral in die dorp te ry. Altesame 97 busse is in bedryf tydens spitstye, met ’n bepaalde aantal rugsteunbusse en busse wat roetine-onderhoud of herstelwerk ondergaan in die depot.

Geleidelike uitrol na Thembalethu

Die diens na Thembalethu word geleidelik uitgerol om die verkeersuitdagings op die Thembalethu/N2-brug te akkommodeer. Die eerste roete, tussen Thembalethu en Blanco, is op 5 November geaktiveer en is met groot opgewondenheid en dankbaarheid deur die inwoners van Thembalethu verwelkom. Altesaam 30 028 ritte is net in November op dié roete onderneem.

Aankondigings oor watter roete(s) volgende aan die beurt kom, sal gemaak word wanneer die konstruksiewerk op die brug en ander faktore dit toelaat.  

“Ons is baie trots op alles wat ons tot dusver bereik het,” sê GO GEORGE se waarnemende bestuurder, Morné Lakay. “Maar vanjaar is ons grotendeels dankbaar dat ons na Thembalethu kon uitrol. Al het ons net een roete geaktiveer, glo die Thembalethu-inwoners nou dat ons vasbeslote is om hulle in te sluit by die voordele wat hierdie bekostigbare, geskeduleerde vervoerdiens bied.”

Al hoe meer mense ry bus

Afgesien van die uitbreiding na Thembalethu, is dit duidelik dat mense toenemend die busdiens as hul vervoermiddel kies. 

Verlede jaar het GO GEORGE 41 581 passasiers tydens Swart Vrydag-naweek vervoer. Vanjaar is daar oor dié naweek 43 998 ritte onderneem.  Die gemiddelde ritte per weeksdag het ook die afgelope jaar toegeneem, van 17 635 in November 2022 tot 19 979 verlede maand – ‘n toename van meer as 2 000 ritte per dag.  

“Hierdie tendens is verblydend aangesien openbare vervoer – tesame met die voordele aan ons passasiers – ook daarop gemik is om die impak van giftige uitlaatgasse op die omgewing te verlig. Wanneer ons inwoners van George aanmoedig om van die busdiens gebruik te maak – selfs al besit hulle ‘n motor – verduidelik ons dit as die omgewingsvriendelike keuse,” het Lakay gesê.

Vir meer inligting oor die busdiens kan die GO GEORGE-inbelsentrum tolvry geskakel word op 0800 044 044, met agente aan diens van 05:00 tot 20:00, sewe dae per week.

Latest News

YOUR SAFETY IS OUR CONCERN
Do not extend your legs or personal belongings into the aisle - this can cause someone to trip and fall.
Do not extend your legs or personal belongings into the aisle - this can cause someone to trip and fall.
@george_mun

Don’t wait until there are no trips left on your GO GEORGE Smart Card. You can top up at any of the GO GEORGE Smart Card kiosks, at a mobile kiosk parked near you, or at more than 100 top-up vendors all over town.
@george_mun

Load More