Die GO GEORGE-busdiens is as ’n gevallestudie van universele toegang in openbare vervoer voorgehou by die Nasionale Ongeskiktheidsregte Masjinerie-vergadering wat onlangs in Pretoria plaasgevind het. Hierdie jaarlikse vergadering wat bygewoon word deur sleutelfigure in die regering hersien vooruitgang en bespreek wetgewing, aksieprogramme en toekomstige ontwikkelings rakende die regte van mense met gestremdhede.
Volgens Amanda Gibberd, verantwoordelik vir universele ontwerp en universele toegang in die nasionale departement van vervoer, het die departement aanbeveel dat GO GEORGE
gekies word as die beste voorbeeld om by die vergadering voor te hou.
“GO GEORGE is die geïntegreerde openbare vervoernetwerk wat die meeste vordering getoon het t.o.v. universeel toeganklike openbare vervoer, met die kleinste hoeveelheid regeringsbefondsing van al 13 munisipaliteite met geïntegreerde openbare vervoernetwerke wat befondsing ontvang het. GO GEORGE toon toewyding en verbintenis tot die implementering van ’n universeel toeganklike vervoerstelsel vir die hele munisipale netwerk en gaan steeds voort om die passasiersreis en – ervaring te verbeter. Dit is wat ons raaksien en waardeer, en wat ons aan die ander rolspelers by die vergadering wou voorhou,” sê sy.
James Robb, GO GEORGE-bestuurder, het die gevallestudie aangebied. “Die deelnemers was hoogs beïndruk deur ons pogings, die hoeveelheid werk wat ons tot dusver gedoen het en die denke wat in ons beplanning ingaan. Buiten die toeganklikheid van ons voertuie en infrastruktuur in die geheel, het hulle ook baie positief gereageer op die omvang en inklusiwiteit van die openbare bewustheidsprogram wat GO GEORGE skep deur die gedrukte media en op sosiale media. Hulle was besonder beïndruk met deur ons visuele en interaktiewe visuele kommunikasiestrategieë soos die GO GEORGE-bordspeletjies waarvan een gebruik word vir drywersopleiding en nog een vir die opvoeding van laerskoolleerders, asook ons strokiesprente, pamflette en koerantrubrieke."
Volgens Robb het die departement van telekommunikasie en posdienste GO GEORGE spesifiek geloof vir elemente soos die ReadSpeaker-funksie op hul webblad. “Hulle het volgehoue oorweging van hierdie tipe kommunikasiehulpmiddels aangemoedig. Die gestremdheidsektor het opnuut ’n beroep gedoen op rolspelers om geraadpleeg te word wanneer toeganklikheidselemente beplan word. Ons ondersteun dit ten volle. Om die waarheid te sê, om mense met gestremdhede te raadpleeg in die ontwerp en verfyning van die GO GEORGE-busdiens en toeganklikheidselemente het deel van die proses geword.”
Wat is universele toegang?
Universele toegang verwys na die vermoë van alle mense om gelyke geleenthede en toegang te hê tot ’n diens of produk wat tot hul voordeel is, ongeag hul sosiale klas, etnisiteit, afkoms, ouderdom, geslag en of hulle ‘n gestremdheid het. Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing en internasionale verbintenisse wat aangegaan is, moet mense met verskillende maniere van beweeg (kinders, jongmense, bejaardes, mense met gestremdhede, mense wat babas of inkopies dra, swanger vroue, ens.) almal openbare vervoer met waardigheid kan gebruik.
Hoe implementeer GO GEORGE universele toeganklikheid?
Volgens Robb gaan universele toeganklikheid oor baie meer as om in staat te wees om op die bus te kom. “Die meeste mense weet ons verskaf universele opklimgeleentheid deur middel van die skuins loopvlak en hyser op ons busse, en dat prioriteitsitplekke gereserveer word vir passasiers met spesiale behoeftes. Ons moet egter ook die toestand van sypaadjies waarlangs passasiers tot by die bus moet loop in gedagte hou, die plasing van skuilings op smal sypaadjies en die ruimte wat dit laat vir beweeglikheidstoestelle. Ons moet dink aan die bushalte-teken en plaveisel by die bushalte wat vir die blinde passasier moet kommunikeer waar om te wag, sonder dat ons obstruksie veroorsaak. Ons kyk na die nabyheid van die bushaltes aan voetoorgange, en in die toekoms moet ons kyk na die beplanning van ons stad om seker te maak dat mense maklike toegang tot hul bestemmings geniet.”
Robb wys daarop dat universele toeganklikheid meer kompleks is as wat baie mense dink, “maar dit is ’n uitdaging wat GO GEORGE met graagte aanvaar en met entoesiasme aanpak”.