Vroulike busdrywers sê dis nie vir sissies nie

23
Aug '19
Vroulike busdrywers
Ses van die 23 vroulike busdrywers in diens van GO GEORGE – hulle is van links (voor) Geraldene Flores, Leana Jansen, Nomathamsanqa Nkebe, Thozama Magoqwana en Ziyanda Nqwemesha, met Thandazile Matenjwa heel agter.

Hulle is ma’s en vroue, versorgende dogters van bejaarde ouers, aktiewe lede van hul gemeenskap. Maar die 23 professionele, vroulike busbestuurders in diens van GO GEORGE staan hul man in ’n tradisionele manswêreld en deins nie vir een oomblik terug vir die uitdagings van hul gekose beroep nie.

Of dit nou was omdat hulle desperaat was vir werk en enige iets sou leer doen vir ’n vaste werk en inkomste, iets vir die gemeenskap wil beteken of werklik gedroom het daarvan om ’n swaar voertuig te bestuur, wil nie een van die span iets anders doen om brood op die tafel te sit nie.

’n Jong ma vertel opgewonde van die ekstra opleidingsgeleenthede wat saam met die werk kom. “Ons word opgelei om met rekenaars te werk – waar sou ek nou ooit die blootstelling kon kry? Ons het nie eers ’n rekenaar by die huis nie!”

Klim in moeilike passasier se skoene

“Ons is waarskynlik ’n bietjie geduldiger met die passasiers as die manne, maar tog is die passasiers se gedrag teenoor ons dié aspek van die werk wat ons die meeste vang,” het ’n groep eenparig tydens ’n onderhoud verklap. “Jy leer egter baie vinnig om jou daarvan af te sluit, kalm te bly en nie op daardie druk te reageer nie. Ons word geleer om te onthou dat die moeilike passasier dalk ’n slegte dag agter die rug het, siek kan voel, of bloot net baie moeg kan wees. As ’n mens ontsteld gaan raak, kan jy nie op jou werk en die verkeer fokus nie.”

Almal is dit eens dat ’n dankie of erkenning vir ’n veilige rit geweldig baie beteken, want dit is tog dreinerend om heeldag gaaf en vriendelik te wees te midde van passasiers se frustrasies. “Ons waardeer dit ekstra baie as die passasiers mekaar onderling aanspreek om nie so onbeskof met die busdrywer te wees nie; dit voel of iemand jou darem as ’n persoon aansien.”

’n Jong Xhosa-vrou lag lekker oor hoe haar Afrikaans verbeter het agter die stuurwiel van die bus. “Ek hoor die eerste week heeltyd mense sê vir mekaar ‘lekke werk, lekke werk’! Ek vra toe my skoonpa wat daai woorde beteken; nou sê ek vir al my passasiers hulle moet lekker werk!”

Haar kollegas sê op hul beurt het hulle weer heelwat Xhosa-woorde opgetel en geniet hulle dit om passasiers hier en daar te verras met ’n woord uit hul eie taal.

Werkende ma’s werk dubbelskof

Die vroue wat aan die onderhoud deelgeneem is, is almal ma’s. Een van hulle is swanger met ’n tweede baba. “Ek pas deesdae beter agter die stuurwiel van die groot busse in, maar ek ry nog net so gemaklik. Dit voel nie eers meer vir ons of ons busse bestuur nie; dis net ’n voertuig. My eie kar voel eintlik nou vir my te klein en beknop!”

’n Werkende ma brand haar kers aan albei kante. ’n Ma wat vir ’n openbare busdiens ry, moet hare op haar tande hê. Dis soos enige vrou wat skofte werk: dit maak nie saak hoe laat jy weer moet opstaan om by die werk te kom nie, saans maak jy kos vir jou gesin, versorg die huis en wasgoed en sorg dat die kinders se goed reg is vir skool die volgende dag. As jou wekker 03:00 afgaan, spring jy op want daar is ’n hele dorp se mense wat jy betyds by die werk en skool moet kry – terwyl iemand anders jou gesin moet regsien vir die dag. As jy nie ’n ondersteunende, behulpsame gade of familielede het nie, het jy moeilikheid.

Nogtans wil hierdie vroue niks anders doen nie. Hulle is trots op hulle werk. Een hoop om ’n passasier se dag te maak met haar vriendelike woorde; ’n ander een voel goed omdat sy die gemeenskap help om te kom waar hulle moet wees; almal is dankbaar vir nuwe vaardighede en die voordele van ’n vaste betrekking, soos kraamverlof.

Salueer gerus die volgende vroulike busbestuurder wat by jou verby ry.

Latest news