Gereelde vrae
Meer oor die busdiens
1. Wat is GO GEORGE
Dit is ‘n geskeduleerde busdiens wat betroubare, toeganklike, veilige en bekostigbare openbare vervoer vir die mense van George bied. GO GEORGE is die resultaat van ‘n vennootskap tussen die George-munisipaliteit, die Wes-Kaapse provinsiale regering, die nasionale departement van vervoer en plaaslike taxi- en busoperateurs in die George-omgewing. GO GEORGE-busse bedien aanvanklik net die stad George, maar sal uiteindelik ook naburige dorpe verbind.
2. Hoekom is daar besluit om so ‘n projek te ontwikkel?
Die nasionale regering het die visie vir veilige, betroubare, toeganklike en bekostigbare openbare vervoerstelsels, regoor die land, ontwikkel. Plaaslike regering (munisipaliteite en metro’s) is die taak opgelê om hul eie stelsels tot stand te bring volgens die behoeftes en omstandighede wat op elke gebied van toepassing is. Die mikpunt is om te verseker dat meer mense toegang het tot ‘n meer bekostigbare vorm van vervoer, wat hulle in staat sal stel om meer sosio-ekonomiese geleenthede te benut. Die projek het gegroei van ‘n plan om beweging in die Sandkraalweg-korridor (nou Nelson Mandelaboulevard) te verbeter, tot die besef dat dit nie moontlik sou wees sonder ‘n beter begrip van hoe openbare vervoer aan die meerderheid van die bevolking wat nie toegang het tot ‘n privaat motor nie, verskaf behoort te word nie.
3. Watter voordele bring GO GEORGE?
GO GEORGE maak veilige, betroubare, toeganklike, bekostigbare en geskeduleerde openbare vervoer ‘n werklikheid vir die mense wat in George woon en werk. Dit verdind gemeenskappe, stimuleer die ekonomie en maak George aantrekliker vir besighede en beleggers. Die feit dat meer mense in staat is om kruis en dwars oor ons stad te reis, beteken verhoogde lewenskwaliteit vir almal.
4. Gaan die GO GEORGE-busse alle ander taxi’s en busse in en om George vervang?
Die busstelsel word in fases ingebring in die munisipale gebied, wat stelselmatig sal lei tot beperkte minibusse in die toekoms. Langafstand-bus- en -taxidienste, asook huurooreenkomste (charter services) sal nie geraak word nie.
5. Was die plaaslike vervoerbedryf betrokke by die ontwerp en ontwikkeling van hierdie projek?
Ja. Die taxi- en busoperateurs met geldige bedryfslisensies is reg van die begin af gekonsulteer. Talle opebare skakelingsessies is gehou en almal wat in diens was in die bedryf, is genooi om te registreer op die Affected Persons Register (APR). Die aandeelhouers van die busbedryfsmaatskappy, George Link (Pty) Ltd, bestaan 100% uit huidige/voormalige plaaslike taxi- en busbedryfslisensiehouers.
6. Hoe en waar is busbestuurders gewerf?
Busbestuurders word deur George Link in diens geneem en word almal gewerf van die Affected Persons Register af. Bestuurders ontvang gevorderde bestuursopleiding, spesifieke produkopleiding om die werking en eienskappe van die bus te verstaan, sowel as operasionele opleiding voordat hulle as werknemers aangestel word.
7. Vakatures
GO GEORGE is tans nie in die posisie om enige vakatures te adverteer nie. Gedurende onderhandeling voor die uitrol van die busdiens, is ooreengekom dat ‘n register geskep word van mense uit die minibustaxibedryf wat geraak is deur die transformasie van die plaaslike openbare vervoernetwerk, en dat diegene wat geregistreer is op hierdie register, eerste oorweeg sal word vir vakatures.
8. Hoe lyk die busse?
Verskillende groottes busse word op verskillende roetes gebruik. Groter busse word op die hoofroetes gebruik, terwyl die kleiner busse ontplooi sal word op roetes in die woongebiede. Op die groter busse is daar spasie vir bagasie en ander items soos stootwaentjies. Busse het ook spesiale “parkeerplekke” waar rolstoele veilig kan staan, terwyl prioriteitsitplekke geskep is vir bejaardes, swanger vroue en ander mense met spesiale behoeftes wat nodig het om te sit op die bus.
9. Watter roetes sal geaktiveer word, en watter deel van George sal gedek word?
Die hele George-munisipale gebied sal uiteindelik bedien word deur ‘n netwerk van roetes wat sal verseker dat die meerderheid van die stedelike inwoners van George binne 5 tot 10 minute stapafstand van ‘n busroete is. Roetes wat die landelike plaasgebiede bedien en naburige dorpe soos Knysna, Mosselbaai en Oudsthoorn sal verbind, word vir die toekoms beplan. Die GO GEORGE-webblad sal meer inligting verskaf soos die stelsel groei.
10. Hoeveel busroetes en -haltes word ontwikkel?
Met die aanvanklike implementering word 28 basiese roetes met meer as 700 bushaltes in die vooruitsig gestel.
11. Wanneer sal die diens ten volle ontplooi wees?
Die eerste fase het in Desember 2014 afgeskop met vier roetes (Loeriepark, Rosemoor, Denneoord en Garden Route Mall). Fase twee is aan die einde van Februarie 2015 uitgerol met roetes in en na Blanco, Heatherlands en Heatherpark, en ‘n beperkte City Loop-roete. Fase 3 is in Mei 2015 geaktiveer met roetes na Pacaltsdorp, Rosedale en Syferfontein, die industriële gebiede en ook vanaf Pacaltsdorp na die Garden Route Mall, en Fase 4B het uitgerol na Parkdene, Ballotsview, Conville, Borcherds en Lawaaikamp in Maart 2020. Die uitrol na Thembalethu (Fase 4A) het in Oktober/November 2023 afgeskop en word in fases geaktiveer om hoë verkeersvolumes te akkommodeer. Hierdie roetes skakel almal met mekaar. Die sentrale punt waar die meeste roetes kruis, maar nie die enigste oorklimpunt nie, is die vervoerkern (Hub) in Cradockstraat. Die implementering van die res van die beplande roetes hang van verskeie faktore af, maar geniet die hoogste prioriteit. Die tussen-dorp-dienste sal eers daarna volg.
12. Is GO GEORGE dieselfde as MyCITI in Kaapstad en Rea Vaya in Johannesburg?
In ‘n sekere sin, ja, maar elkeen van hierdie stelsels het sy eie unieke elemente. Die GO GEORGE-stelsel is ‘n openbare busdiens wat dieselfde padruimte as ander voertuie gebruik. Die MyCiti- en Rea Vaya-stelsels se hoofroetes gebruik toegewysde bane met geslote busstasies wat net deur hul busse gebruik mag word. Al drie stelsels staan bekend as geïntegreerde openbare vervoer-projekte, met wisselende afhanklikheid van ander tipes vervoer, soos treine.
13. Wat is BRT en IRT?
Albei terme verwys na nuwe openbare vervoer-stelsels wat wêreldwyd ontwikkel word. BRT beteken “bus rapid transit” en verwys na ‘n stelsel wat gebruik maak van toegewysde busbane. IRT is “integrated rapid transit” waar ‘n stelsel gebruiik maak van BRT én die integrasie van verskillende tipes vervoer soos spoor-, bus- en taxivervoer. In die geval van GO GEORGE, word geen BRT-prioriteitsbane gebruik nie.
14. Waar kom die geld vir hierdie projek vandaan?
Befondsing kom van al drie sfere van regering, met die grootste deel van die nasionale en provinsiale regering.
1. Wat is die GO GEORGE Slimkaart?
Die GO GEORGE Slimkaart lyk soos ‘n plastiekbankkaart en word deur Standard Bank uitgereik en gefasiliteer. Kaarthouers kan ritte in verskillende pakkette en tariefkategorieë op hierdie kaart laai by aangewese kiosks, mobiele kiosks en geregistreerde GO GEORGE-herlaaipunte (vendors).
Elke passasier moet sy/haar eie kaart hê, insluitend kinders vanaf 4 jaar en ouer.
2. Waar en hoe kry ek ‘n kaart?
GO GEORGE Slimkaarte is beskikbaar by die volgende punte, 7 dae per week:
- Slimkaartkiosk in die George-vervoerkern in Cradockstraat: 05:30 – 20:00
- Slimkaartkiosk by Garden Route Mall: 05:30 – 20:00
- Slimkaartkiosk by Blanco Driehoek: 05:30 – 20:00
- Slimkaartkiosk langs Truns, Nelson Mandela Blvd, Thembalethu: 05:30 – 18:30
- GO GEORGE Slimkaart mobiele voertuig (skedules sal aan passasiers beskikbaar gestel word)
Koste van die Slimkaart:
- Die Slimkaart kos R41. Kopers wat hul eerste kaart aanskaf ontvang twee gratis, voorafgelaaide ritte op hul kaart wanneer hulle hul ID, geboortesertifikaat, paspoort of rybewys of ‘n afskrif daarvan toon.
- Nuwe kaarte sonder identifikasie en vervangingskaarte kos ook R41, maar sonder enige gratis ritte.
- Jy kan kaarte vir jou kinders, werknemers of enige ander persoon koop en ook die twee gratis ritte op hul kaarte kry as jy hul identifikasiebewys met jou het. Sonder identifikasiebewys kan u steeds die kaarte koop, maar sonder gratis ritte.
3. Hoe laai ek ritte op die kaart, en teen watter koste?
Sodra ‘n GO GEORGE Slimkaart by die verkooppunt geaktiveer is, kan ritte by enige van die volgende punte, 7 dae per week, gelaai word:
GO GEORGE Slimkaart-verkoopspunte:
- Slimkaartkiosk in die George-vervoerkern in Cradockstraat: 05:30 – 20:00
- Slimkaartkiosk by Garden Route Mall: 05:30 – 20:00
- Slimkaartkiosk by Blanco-driehoek: 05:30 – 20:00
- Slimkaartkiosk langs Truns, Nelson Mandela Blvd, Thembalethu: 05:30 – 18:30
GO GEORGE Slimkaart mobiele voertuie (skedules hier beskikbaar)
Slegs ‘n netwerk van verskaffers van Smart Card-aanvullings (lys hier beskikbaar)
Aanvaarde vorms van betaling is kontant, debietkaart, kredietkaart of Sassa-kaarte.
Ritte wat op die kaart gelaai is, verval nooit nie en bly geldig totdat dit gebruik word.
Reiskoste:
GO GEORGE-tariewe is afstandgebaseerd. Tans (Julie 2025) oorskry geen roetes die radius van 15 km nie, met ’n vaste tarief vir alle ritte en oorklimme wat binne ‘n uur voltooi is.
Koste van ritte (Julie 2025)
10 of meer ritte: R13.45 per rit
2, 4, 6 of 8 ritte: R14.80 per rit
1 rit: R17.90
Die aantal ritte wat op die kaart oorbly, word gedruk op die kwitansie wat aan die kaarthouer uitgereik word nadat die kaart geskandeer is tydens opklim op die bus. Die aantal ritte wat op die kaart oorbly, sal ook reflekteer op die kwitansie wanneer dit herlaai word.
4. Hoe om jou GO GEORGE Slimkaart te gebruik
- Tydens opklim op die bus hou die passasier die kaart voor ‘n kaartskandeerder wat die rit aftrek van die beskikbare ritte op die kaart.
- ‘n Kwitansie met die besonderhede van die rit en die oorblywende balans op die kaart word uitgedruk. As daar onvoldoende ritte op die kaart is, sal die skandeerder dit aandui.
- Die GO GEORGE Slimkaart kan vir slegs een rit/passasier op ‘n slag gebruik word – elke passasier het hul eie Slimkaart nodig. Dit is om toevallige dubbele tik en verlies van ritte op die kaart te vermy.
5. Wat om te doen wanneer:
Ek kan nie onthou hoeveel ritte ek op my kaart oor het nie.
Dit is die beste om altyd jou laaste ritkwitansie te hou wat die balans van ritte wat op jou kaart oorbly, toon. As dit nie beskikbaar is nie, gaan na enige Slimkaartkiosk of mobiele kiosk wat u kaart sal skandeer en die aantal ritte op u kaart sal gee. Let daarop dat die herlaaipunte (top-up vendors) u nie hiermee kan help nie.
My kaart is verlore of gesteel.
Hanteer jou kaart net so versigtig as wat jy ‘n bankkaart of kontant hanteer. Verlore of gesteelde kaarte sal nie vervang word nie, en jy sal ‘n nuwe kaart vir R41 moet koop. Geen oorblywende waarde op u ou kaart kan na die nuwe kaart oorgedra word nie.
Dit lyk asof my kaart nie werk nie of foutief is.
Gaan na enige Slimkaartkiosk/mobiele kiosk (nie ritherlaaipunt nie) wat die kaart sal toets en dit onmiddellik gratis sal vervang as dit foutief is, en die ou kaart sal behou. Ná verifikasie van die aantal ritte wat op die foutiewe kaart oor is, sal die ritte onmiddellik na die nuwe kaart oorgedra word.
My kaart is beskadig en werk nie meer nie.
Gaan na enige Slimkaartkiosk of mobiele kiosk waar jy ‘n nuwe kaart vir R41 kan koop, en laat jou beskadigde kaart by hulle om die aantal oorblywende ritte te verifieer. Enige geldige ritte wat op die beskadigde kaart gelaat word, sal binne twee werksdae na die nuwe kaart oorgedra word.
Kaarthouerfooie
Daar sal geen fooie gehef word vir ‘n vervangingskaart as daar bevind word dat ‘n GO GEORGE Slimkaart foutief is nie.
Die kaarthouer sal verantwoordelik wees vir die koste van die vervangende GO GEORGE Slimkaart indien die kaart beskadig, gesteel of weg is.
6. Algemene terugbetalingsbeleid
‘n Kaarthouer met ‘n GO GEORGE Slimkaart is onder geen omstandighede geregtig op ‘n terugbetaling van enige ritbalans nie.
7. Bepaling van die oorblywende aantal ritte op ‘n kaart
Die bestuursinligtingstelsels van Standard Bank is afdoende bewys van die hoeveelheid oorblywende waarde op enige kaart.
8. Vertroulikheid van kaarthouers
Ingeval die George-munisipaliteit persoonlike inligting van kaarthouers verlang, sal sodanige inligting vertroulik en privaat bly.
Die GO GEORGE-inbelsentrum, die George-munisipaliteit en GO GEORGE-slimkaartstelselontwikkelaars / administrateurs sal die vertroulikheid en privaatheid van ‘n individu se persoonlike inligting handhaaf, tensy sodanige vertroulikheid of privaatheid deur die kaarthouer kwytgeskeld word, of tensy anders bepaal by wyse van ‘n hofbevel deur ‘n hof wat jurisdiksie oor enige van die genoemde partye het.
Die GO GEORGE Slimkaart sal anoniem wees, met ander woorde, geen name of ID-nommers sal op die kaart gedruk word nie.
1. Gedurende watter ure ry die busse?
Busse ry normaalweg ongeveer 16 ure per dag, sewe dae per week. Frekwensie (hoe gereeld die bus verbykom) sal afhang van aanvraag, met meer busse gedurende spitstye. Tans begin sekere ritte 05:00 in die oggend en die diens eindig normaalweg in die omgewing van 20:00. Tydroosters kan op ons webblad besigtig word by www.gogeorge.org.za, of skakel gerus ons inbelsentrum by 0800 044 044 waar ingeligte agente van 05:00 tot 20:00 beskikbaar is om te help.
2. Ek het ‘n motor – hoekom moet ek liewer ‘n GO GEORGE-bus gebruik?
Openbare vervoer is vriendeliker teenoor die omgewing en meer koste-effektief as ’n private voertuig, dit verminder verkeersopeenhoping en stel die nodigheid om die dra-krag van bestaande padinfrastruktuur op te gradeer, uit.
3. Waar kan ek op ‘n GO GEORGE-bus klim?
Wys op die uitkyk vir bushaltes op roetes regoor die stad. Staan by ’n halte en lig jou hand om vir die busbestuurder aan te dui dat hy moet stop. Maak seker dat jy die regte bus stop – verskeie roetes gebruik dieselfde bushalte.
4. Is die busse veilig en betroubaar?
Ja. GO GEORGE het ’n passasiershandves as ’n verbintenis tot kwaliteit diens aan passasiers opgestel. Jy kan hierdie handves op ons webblad www.gogeorge.org.za onder die afdeling Passenger Info lees. Van busbestuurders word verwag om te alle tye bedagsaam en binne die voorskrifte van die wet te bestuur. Aangesien die busdiens volgens ’n tydrooster ry, word die spoed beperk en outomaties gemoniteer deur middel van ’n elektroniese opspoorstelsel. Indien hierdie voorskrifte nie nagekom word nie, sal die busbedryfsmaatskappy finansiële boetes opgelê word. Ons busse word gereeld gediens en beskik oor binnekringtelevisiekameras en paniekknoppies aan boord, en die wetstoepassingsagentskappe in George werk almal saam om jou veiligheid te alle tye te verseker.
5. Mag my troeteldiere saamry op die bus? En wat van groot stukke bagasie?
Bagasie is toelaatbaar, solank jy dit self kan hanteer en beheer, dit op jou skoot pas en nie ander passasiers verontrief nie.
Geen diere of troeteldiere anders as opgeleide bystandsdiere, diere in toe troeteldierhouers, hokke, houers of vervoerkratte sal toegelaat word op ‘n GO GEORGE-voertuig nie.
- Passasiers moet houers op hul skoot hou of naby hul voete plaas.
- ‘n Houer moenie ‘n paadjie blokkeer of ‘n sitplek opneem nie.
- Die dier of troeteldier moenie ontwrigtend of lawaaierig wees of dreigende gedrag
toon nie.
6. Mag ek na my musiek luister op die bus? En mag ek my kos eet?
Nee, geen eet- of drinkgoed word op die bus toegelaat nie. Uit hoflikheid en respek teenoor ander passasiers moet jy asseblief jou oorfone gebruik om na musiek te luister. Moet asseblief niks op die bus doen wat ander verontrief, ongemaklik maak of aanstoot gee nie. Maak seker dat jy die GO GEORGE-vervoerreëls ken – dit is daargestel om seker te maak dat almal hul reis kan geniet. Passasiers kan beboet word indien hulle hierdie reëls ignoreer. Afskrifte van die reëls verskyn binne-in al die busse, asook op ons webblad: www.gogeorge.org.za, onder die afdeling Passenger Info.
7. Kan rolstoelgebruikers en mense met spesiale behoeftes die GO GEORGE-busse gebruik?
Ja. Die stelsel is ontwikkel om so universeel toeganklik moontlik te wees vir alle gebruikers. Dus is spesifieke ontwerpveranderings aangebring om te verseker dat dit so maklik moontlik sal wees vir passasiers met spesiale kategorieë behoeftes om die diens te gebruik. Amper-gelyke opklimvlakke vanaf bushaltes tot op die groter busse is beskikbaar, terwyl die kleiner minibus ’n hyser ontplooi vir toegang. Geriffelde plaveisel by bushaltes help gesiggestremde passasiers om hul pad te vind, terwyl gereserveerde ruimtes op die busse is geskep om beweeglikheidstoerusting soos rolstoele, sekere scooters en ander loophulpmiddels te akkommodeer. George is tans die enigste stad in Suid-Afrika met ’n ten volle toeganklike busvloot.
8. Wat beteken dit om oor te klim tussen busse om my bestemming te bereik?
GO GEORGE is ’n netwerk. Afhangende van waarheen jy gaan, mag dit nodig wees om van een bus op ’n ander oor te klim om by jou bestemming uit te kom. Dit is belangrik om die kruising van roetes te leer ken sodat jy jou oorklim kan beplan. Dit is uiters noodsaaklik dat jy jou rit beplan met behulp van die GO GEORGE-kaarte en -tydroosters voordat jy vertrek. Jy kan by enige punt waar roetes bymekaarkom, oorklim, maar daar is gerieflike oorklimpunte wat op die stelselkaart aangedui word. Wanneer jy by ’n oorklimpunt van ’n bus afklim, maak seker dat by die regte bushalte staan vir die volgende been van jou rit. Dit mag nodig wees om oor die straat te loop om die regte bus wat in die regte rigting vir jou ry, by ’n ander halte te haal. Elke kaartjie is geldig vir een uur vanaf die tyd wat dit gestempel is totdat jy op die laaste bus na jou bestemming klim, waar jy dit vir die busbestuurder moet gee om die stempel na te gaan. Oorklim is gratis indien jou kaartjie nog geldig is. Deur tussen busse oor te klim, help jy ons om die stelsel meer doeltreffend te maak en die kaartjiepryse bekostigbaar te hou. As jy onseker is oor waar om oor te klim op ’n volgende roete, vra jou busbestuurder, of skakel ons inbelsentrum by 0800 044 044 vir hulp om jou roete te beplan voordat jy bushalte toe gaan.
9. Wat is ‘n tweerigtingroete?
Alle roetes is eintlik tweerigting – hulle ry in albei rigtings. In die konteks van ons beskrywings verwys die term egter spesifiek na roetes wat in die rondte ry. ’n Tweerigting-sirkel beteken jy kan op die bus klim op enige plek op die roete, aan enige kant van die pad, en sal uiteindelik weer eindig waar jy begin het. Die idee is dat jy as passasier kan besluit watter rigting jou die vinnigste by jou bestemming sal uitbring, hoewel albei rigtings jou daar sal kry.
10. Hoekom moet ek soms staan op die bus terwyl ander kan sit?
Gedurende spitstye word passasiers aangemoedig om ’n staanplek in te neem as dit sal help om jou vinniger by jou bestemming te kry, eerder as om te wag vir ’n volgende bus met sitplek. Die standaard- en midibus is nie vol totdat al die sitplekke geneem is EN volle staande kapasiteit bereik is nie. Die toegelate aantal sittende en staande passasiers word aangedui op elke bus. Busbestuurders is verplig om by alle bushaltes op hul roete te stop totdat die bus vol is, indien daar passasiers wag om op te klim. Versuim om wagtende passasiers op te laai terwyl die bus nog nie volle kapasiteit bereik het nie, is onbedagsaam, onaanvaarbaar en ’n oortreding van die GO GEORGE-kontrakvoorwaardes. Terwyl die busbedryfsmaatskappy beboet kan word in so ’n geval, dra versuim om die busse vol te maak ook by tot die koste van die verskaffing van die diens, en moontlik tot die koste van jou kaartjie. Passasiers mag staan op die laer vlak in die standaard- en midibusse, maar nie op minibusse nie.
11. Waar kan ek meer inligting kry of kommentaar lewer op GO GEORGE?
Jou terugvoer oor die GO GEORGE-busdiens is vir ons baie waardevol en mag oorweeg word vir moontlike verbeterings of aanpassings aan ons stelsel om te verseker dat ons ’n doeltreffende diens lewer. Ons wil jou aanmoedig om die GO GEORGE-inbelsentrum (tolvry vanaf landlyne) by 0800 044 044 tussen 05:00 en 21:30 – sewe dae per week – te skakel. Hier is goedingeligte agente wat jou met graagte sal help. Jy kan ook ’n e-pos stuur na info@gogeorge.org.za. ‘n Baie goeie manier om op hoogte van daaglikse nuus en kennisgewings oor die stelsel te bly, is om in te skakel by ons Facebook-blad.