’n Kykie agter die ystergordyn
Nog ’n groep van 82 GO GEORGE-busskuilings word tans vervaardig en sal van hierdie week af, geleidelik oor die volgende paar maande opgerig word. Bykomend tot die 30 skuilings van die eerste fase van permanente busskuilings wat reeds opgerig is, sal hierdie skuilings vir ’n groot persentasie passasiers skuiling bied teen die elemente.

Terwyl die kleurvolle en stewige skuilings oral oor die dorp opduik, verstaan min mense die voorbereiding agter die (yster-) gordyn, en die presisie waarmee hierdie ingenieursprojek uitgevoer word.
Bepaling van haltes wat skuilings kry
Die bushaltes wat skuilings kry, is bepaal op grond van die tipes busse wat daar stop (mini- of groter busse), die aantal roetes wat die halte gebruik, frekwensie van ritte, nabyheid aan winkels, plekke wat gereeld besoek word en werksplekke, die tipe bushalte (inham of in die pad), en die fisiese toestand van die pad en sypaadjie. Nog ‘n oorweging is die aantal passasiers wat die bushalte gebruik.

As gevolg van die unieke ligging van elke bushalte, word ‘n assessering gedoen voor die finale plasing van die struktuur. Om die ideale plasing van die struktuur te bepaal, word daar versigtig gekyk na bestaande infrastruktuur en beskikbare sypaadjieruimte, die beste siglyne vir aankomende busse en verkeer, die veiligheid van passasiers, en die gemak van beweging vir persone met spesiale behoeftes om in en uit die bus te kom. Tydens die installering van die skuilings word fondasies gegooi, sypaadjies opgegradeer waar nodig en moontlik, en ander infrastruktuur soos telefoon- en elektriese kabels geskuif.

Soms noodsaak ’n spesifieke bushalte kreatiewe uitvoering van die taak, soos die Union A-halte in Yorkstraat wat met sy rug na die straat opgerig is. Bestaande infrastruktuur onder die sypaadjie-oppervlak en voetgangerpaadjies wat in ag geneem moes word, het hierdie “agterstevoor” halte tot gevolg gehad.
Ontwerp met ’n plan
Die busskuiling self is ‘n duursame, lae-onderhoud struktuur van gegalvaniseerde staal in ‘n modulêre ontwerp wat later bykomende uitbreidings sal toelaat. Sekere skuilings sal mettertyd uitgebrei word met bykomende fasiliteite soos nodig. Terselfdertyd laat die ontwerp vervanging van net ’n enkele beskadigde komponent toe, sonder dat die hele struktuur vervang hoef te word.

Noukeurige konstruksie
Die plaaslike ingenieursmaatskappy wat gekontrakteer is om die skuilings te bou, maak vyf skuilings per week kant en klaar. Hulle vervaardig die strukture van die rou, gebuigde staal af. Op die fabrieksvloer is sewe werkstasies wat elkeen ’n ander komponent bou. Voordat al die komponente in die busskuiling-vormraam (jig) aanmekaargesit word, word die onderdele in ’n proefmodel gepas om seker te maak dat alles perfek saam pas.
Wanneer ’n skuiling voltooi is, word dit met ’n vurkhyser op ’n vragmotor gelaai om by sy staanplek afgelewer en stewig op die fondasie vasgemaak te word met industriële boute en moere.
