PACALTSDORP ROADWORKS

Road upgrades starting in Pacaltsdorp on Monday 14 October 2024 will impact several GO GEORGE bus routes.

BEWUSMAKINGSMAAND VIR DIE REGTE VAN PERSONE MET GESTREMDHEDE: GO GEORGE vestig die aandag op die regte van persone met gestremdhede

9
Nov '21
A mascot resembling the front of a bus is dancing with a young girl in a wheelchair.
Die GO GEORGE-gelukbringer Georgie is altyd 'n groot gunsteling tydens interaksie met kinders, soos hier gesien kan word tydens 'n besoek aan die George Vereniging vir Mense met Gestremdhede verlede jaar tydens die bewusmakingsmaand.

Novembermaand word gewy aan die skep van bewustheid van die regte van mense met gestremdhede. Die GO GEORGE-busdiens skakel jaarliks by die regering se nasionale veldtog in om bewustheid te verhoog deur ‘n spesiale program van aktiwiteite in die gemeenskap en die media.

Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, fokus die busdiens voortdurend op toeganklikheid en maniere om die reis en ervaring van alle passasiers te verbeter, insluitend dié met gestremdhede en ander spesiale behoeftes. “Die maandlange veldtog een keer per jaar dien net as ‘n ekstra geleentheid om die hele gemeenskap se aandag te vestig op die regte van diegene met gestremdhede, en om belangstelling te wek op maniere wat tot ‘n inklusiewe samelewing kan bydra,” het hy gesê.

Verskeidenheid bewusmakingsaktiwiteite

Benewens opvoedkundige inligting op mediaplatforms soos koerante, radio en sosiale media, sal meer persoonlike skakeling met belanghebbendes vanjaar plaasvind as verlede jaar, maar steeds streng in ooreenstemming met Covid-19-veiligheidsmaatreëls.

Een van die hoogtepunte van die program is ‘n spesiale dag van aktiwiteite by die George Link-busdepot, die tuiste van die GO GEORGE-busdiens, waar persone met gestremdhede die geleentheid sal kry om die funksies en fasiliteite wat deur die busdiens aangebied word om toeganklikheid vir alle passasiers te bewerkstellig, van naderby te bekyk.

As deel van ‘n deurlopende sensitiserings- en bewusmakingsprogram sal ‘n werksessie aangebied word vir passasiersdiensbeamptes en voorsteliniepersoneel wat direkte kontak het met mense met gestremdhede of ander spesiale behoeftes. Dit sal die tema van universele toegang insluit, asook die toepaslike benadering wanneer hulle hulp aanbied aan persone wat rolstoele en beweeglikheidshulpmiddels gebruik, mense met visuele en gehoorgestremdhede of ander onsigbare uitdagings wat ondersteuning benodig.

Die GO GEORGE-kommunikasiespan sal verskeie skole, huise en sorgsentrums vir mense met gestremdhede en ander spesiale behoeftes besoek met ‘n opvoedkundige, maar vermaaklike program. Aktiwiteite sal ‘n inligtingsessie met versorgers en ouers insluit waar gedagtes en voorstelle oor die gebruik van die openbare busdiens deur mense met gestremdhede uitgeruil sal word.
Enige belanghebbendes in die gestremdheidsfeer wat met GO GEORGE wil skakel, is welkom om ‘n e-pos aan info@gogeorge.org.za te stuur, die Inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel of ‘n versoek op Facebook te laat.

Latest news