’n Veeltalige, slim en vindingryke GO GEORGE-bordspeletjie, ontwerp deur ’n span vervoeringenieurs, grafiese ontwerpers en opvoedkundige spesialiste, is verlede week bekendgestel. Een komplimentêre stel word tans aan elkeen van die laerskole in die gebiede waar die busdiens reeds aktief is, uitgedeel. Die res van die laerskole in die dorp sal hul bordspeletjies ontvang soos wat die diens na hul gebiede uitrol.
“Wanneer leer pret is, steek dit vas,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Hierdie bordspel is so aantreklik, kreatief en toeganklik vir die laerskool-ouderdomsgroep dat ons regtig baie opgewonde is om terugvoer van die kinders te kry. Vraagkaarte is ontwikkel vir twee ouderdomsgroepe, ses- tot negejariges, en 10- tot 13-jariges. Ons is oortuig dat die GO GEORGE-bordspeletjie ure van genot sal verskaf terwyl die kinders meer leer oor die voordele van openbare vervoer vir die omgewing én vir die gemeenskap. Die inhoud is ontwikkel om in te skakel by die vervoer-leerplan van die skole en behoort ’n waardevolle praktiese komponent tot die vakinhoud toe te voeg – terwyl die kinders speel-speel leer.”

Georgie en sy trawante, Karen Lamberts van die kommunikasiespan (links), en Tyron Jeyhi,
GO GEORGE-gemeenskapskakelbeampte.
Spelers word in twee spanne verdeel, met elke span verantwoordelik daarvoor om passasiers na bushaltes te skuif, en van bushaltes na oorklimhaltes en bestemmings, terwyl hulle deur middel van die vraagkaarte meer leer oor die GO GEORGE-stelsel. Hierdie kaarte, aanwysings, reëls en inligtingsboekies word alles in Engels, Afrikaans en isiXhosa verskaf.
Spanne word beloon vir hul kennis van die GO GEORGE-busstelsel deur die dobbelsteentjie te gooi om passasiers nader aan bushaltes en bestemmings te skuif. Die spelbord bevat staal wat die magnete onderaan die speelstukke liggies aantrek sodat dit nie omval nie. Die ontwerpers van die spel het duidelike en omvattende aanwysings vir onderwysers verskaf. Dit sluit ’n DVD in waarna die kinders kan kyk voordat hulle vir die eerste keer speel. Die GO GEORGE-kommunikasiespan staan ook gereed om hulle te gaan touwys maak indien enige skool bykomende bystand versoek.