Met die eerste week van GO GEORGE Slimkaart-verkope wat baie goed verloop het en die verspreiding van kaarte dus goed op dreef, sal die busdiens die nuwe tegniese toerusting vir die
oorskakeling volgende week op busse begin installeer.
Die Slimkaartstelsel word amptelik op 15 November 2018 geïmplementeer. Passasiers sal egter vir die eerste keer op Sondag 18 November hul kaarte tik om vir ritte te betaal aangesien die eerste
drie dae ná implementering gratis ritte sal bied aan almal wat hul Slimkaarte kan toon wanneer hulle op die bus klim.
“Die eerste week van kaartverspreiding het al ons verwagtings oortref,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. "Dis duidelik dat ons herhaalde boodskappe in die media en deur direkte
kommunikasie met die publiek vrugte afwerp; die mense van George verstaan die proses en reageer op ons versoek om hul Slimkaarte so gou moontlik te kry. Nou fokus ons daarop om hulle
deur hierdie volgende fase van oorgang te lei.”
Opklim- en oorklimreëlings
Die nuwe Slimkaart-toerusting sal vanaf 2 tot 14 November 2018 op die busse geïnstalleer word. Gedurende hierdie tyd sal sommige busse steeds die ou kaartjielesers hê, en ander sal reeds die
nuwe toerusting hê wat nie papierkaartjies kan lees nie.
Op die busse waar die nuwe toerusting reeds geïnstalleer is, sal alle buskaartjies (aanboord-enkelkaartjies sowel as voorafgekoopte enkel- en multiritkaartjies) gedurende hierdie oorgangsperiode deur die busbestuurder geknip word. Hy sal die geknipte kaartjie dan teruggee aan die passasier, saam met ’n R0-waarde oorklimkwitansie wat deur die nuwe toerusting uitgedruk word. Om oor te klim op ’n volgende bus binne die toegelate een uur, sal passasiers hierdie kwitansie sowel as die geknipte kaartjie aan die busbestuurder moet toon.
Die kwitansie wat uitgereik word vir oorklim gedurende die oorgangstydperk – en ook in die toekoms wanneer die Slimkaart gebruik word – sal die tyd wanneer die een uur verstryk in donker skrif aandui, asook die tyd toe die passasier op die eerste bus geklim het vir die bepaalde rit. Dit maak dit makliker vir die passasier én die busbestuurder om te sien wanneer die toegelate uur verstryk.
Papierkaartjies uitgefaseer
Vanaf 15 November, wanneer die Slimkaart in werking tree, sal geen papierkaartjies meer verkoop word nie, en vanaf 15 Desember sal geen papierkaartjies meer op die busse aanvaar word nie.
Passasiers word derhalwe sterk aangemoedig om hul Slimkaarte so gou moontlik te kry.
Om te kwalifiseer vir die eerste kaart-prys van R20, wat twee voorafgelaaide ritte insluit, moet die koper ’n identiteitsdokument, paspoort, bestuurderslisensie of geboortesertifikaat, of ’n afskrif
daarvan, toon. Kinders vanaf die ouderdom van vier moet elk hul eie Slimkaart hê.
Diegene wat nie amptelike bewys van identiteit het nie, kan steeds vanaf 1 November 2018 ’n kaart teen die normale prys van R40 koop – dit sluit geen voorafgelaaide ritte in nie. Op hierdie selfde datum sal Slimkaartkiosks, -voertuie en herlaaipunte ook ritte begin verkoop. Tot die einde van Oktober sal slegs die R20-Slimkaart met twee voorafgelaaide ritte verkoop word aan mense met geldige identifikasie.
Vir meer inligting, skakel die GO GEORGE-inbelsentrum, stuur ’n e-pos na info@gogeorge.org.za of volg GO GEORGE op Facebook vir die jongste nuus.