Henriëtte Davenport, ’n versorger by ’n versorgingsoord in Denneoord, het die beroep op George-inwoners om openbare vervoer werk toe te gebruik ernstig opgeneem en onlangs begin bus ry werk toe, “want dit was die regte ding om te doen”. Hoeveel genot sy uit dié busryery sou put, het sy nooit besef nie.
“Ek het ’n motor, maar ek het bereken dat dit my baie minder sal kos om ’n GO GEORGE-bus werk toe te neem van waar ek woon in Bergsig,” sê sy. “ek klim een keer oor – met dieselfde kaartjie – en koop een multiritkaartjie teen R85 vir ’n week se vervoer, terwyl ek voorheen minstens R130 se brandstof moes ingooi per week. En dit sluit nie eers slytasie op my motor in nie.”
Henriëtte is reguit na die GO GEORGE-inligtingskantooor by die George-vervoerkern (Hub) vir inligting oor hoe om die busdiens te gebruik. “Die inligtingsbeampte, Meloney Frans, was so behulpsaam en het my gehelp om my roete en skedule so te beplan dat ek betyds by die werk sal kom, alles met behulp van die handige sakgids wat ek nou by my dra. Gelukkig pas die busroetes my behoeftes perfek, met bushaltes naby my blyplek en my wrkplek. Ek is met ’n groot dankie terug na Meloney toe na my eerste dag as passasier – daar was geen stres nie, want sy het my voorberei op wat ek moet doen en wat om te verwag. En om die waarheid te sê, die rit en die ander passasiers kikker my regtig op! Vir daardie 30 minute of wat, vorm ek deel van ’n gemeenskap. Soms sit ek net rustig en luister na almal se praatjies. Dis goed vir my gees.”
Enige iemand wat hulp of inligting oor die gebruik van die busdiens benodig, is welkom om die inligtingskiosk by die Hub te besoek, of die GO GEORGE-inbelsentrum te skakel by 0800 044 044.