Eerste permanente busskuilings nou opgerig

20
Sep '16
Daar is baie meer aan die oprigting van 'n busskuiling as wat op die oog af blyk. Die fondasies by die Sports Club-bushalte in CJ Langenhovenstraat is Maandag gegrawe en met beton gevul. As alles volgens plan verloop, behoort die terrein gereed te wees vir die installasie van die eerste permanente busskuiling voor die einde van volgende week.

GO GEORGE het aangekondig dat konstruksiewerk aan die eerste 30 permanente busskuilings vir die GO GEORGE-busdiens hierdie week begin het. Hierdie strukture sal welkome verligting bring teen die onvoorspelbare weerstoestande wat so tipies is van George.

“Natuurlik sou ons verkies om ons passasiers al hierdie fasiliteite sommer heel van die begin af te bied,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder, “maar aangesien al die roetes aanvanklik as toetsroetes beskou word terwyl ons eers passasiers se behoeftes en gebruikspatrone monitor, sou dit nie kostedoeltreffend wees om duur permanente skuilings op te rig, net om dit ‘n paar maande later teen groot koste te skuif wanneer ons roetes aanpas nie.”

Die bushaltes wat skuilings kry, is bepaal op grond van die tipes busse wat daar stop (mini- of groter busse), die aantal roetes wat die halte gebruik, frekwensie van ritte, nabyheid aan winkels, plekke wat gereeld besoek word en werksplekke, die tipe bushalte (inham of in die pad), en die fisiese toestand van die pad en sypaadjie. Nog ‘n oorweging is die aantal passasiers wat die bushalte gebruik. Busskuilings sal in groepe oor ‘n tydperk opgerig word, soos die begroting dit toelaat.

Edward Dywili, stoorassistent,en Siya Nyoka wat by voorsieningsadministrasie werk, is albei werknemers van die George-hospitaal en is hoogs opgewonde om te sien dat die permanente skuiling by die bushalte wat die hospitaalpersoneel gebruik, besig is om opgerig te word.
Edward Dywili, stoorassistent,en Siya Nyoka wat by voorsieningsadministrasie werk, is albei werknemers van die George-hospitaal en is hoogs opgewonde om te sien dat die permanente skuiling by die bushalte wat die hospitaalpersoneel gebruik, besig is om opgerig te word.

Die busskuiling self is ‘n duursame, lae-onderhoud struktuur van gegalvaniseerde staal in ‘n modulêre ontwerp wat later bykomende uitbreidings sal toelaat. Sekere skuilings sal mettertyd uitgebrei word met bykomende fasiliteite soos nodig.

Tydens die installering van die skuilings word fondasies gegooi, sypaadjies opgegradeer waar nodig en moontlik, en ander infrastruktuur soos telefoon- en elektriese kabels geskuif.

Harold Basson, direkteur van siviele ingenieursdienste van die George-munisipaliteit, sê as gevolg van die unieke ligging van elke bushalte, word ‘n assessering gedoen voor die finale plasing van die struktuur. “Om die ideale plasing van die struktuur te bepaal, word daar versigtig gekyk na bestaande infrastruktuur en beskikbare sypaadjieruimte, die beste siglyne vir aankomende busse en verkeer, die veiligheid van passasiers, en die gemak van beweging vir persone met spesiale kategorieë van behoeftes om in en uit die bus te kom,” sê hy.

Verskeie skuilings wat lyk soos dié wat nou opgerig word, is al sedert die middel van verlede jaar by die Garden Route Mall, die bushaltes in Cradockstraat en in Blanco te sien. Hierdie skuilings is opgerig as deel van ‘n openbare deelnameproses waartydens die publiek hul voorkeurontwerp kon aandui.

Latest news