George-Burgemeester besoek busbomslagoffer in hospitaal

4
Mar '23
George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Leon van Wyk (links), en James Robb, waarnemende toesigbeampte van openbare vervoer van die munisipaliteit, buite die George-hospitaal ná hul besoek aan van die slagoffers van Woensdag se petrolbomaanval op 'n GO GEORGE-bus.

George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Leon van Wyk, vergesel van James Robb, die munisipaliteit se waarnemende toesigbeampte oor openbare vervoer, het ‘n besoek gebring aan die twee pasiënte wat steeds in die hospitaal is ná Woensdag se petrolbomaanval op ‘n GO GEORGE-bus in Pacaltsdorp.

Tydens die besoek Vrydagmiddag by die George-hospitaal het hulle ook die geleentheid gehad om met ‘n paar familielede van die slagoffers te praat, wat die hoflikheidsbesoek en belangstelling baie waardeer het. Die burgemeester het die munisipaliteit se meelewing en die toewyding van die GO GEORGE-span om voortdurend in kontak met die families te bly, bevestig.

“Dit is duidelik dat die pasiënte wat ons besoek het, steeds getraumatiseerd is en aan skok ly ná hierdie sinnelose kriminele aanval op onskuldige passasiers wat hul daaglikse roetine volg om die GO GEORGE-busdiens te gebruik om werk toe te ry,” het hy gesê.

Die vroulike pasiënt is kort ná die besoek per lugambulans na ‘n Kaapstadse hospitaal vervoer om behandeling by ‘n spesialisbrandeenheid te ontvang.

Beroep op geraakte persone om na vore te kom

Robb het die oproep herhaal dat persone wat op enige manier deur die voorval geraak is, die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 moet skakel en hul name en kontakbesonderhede moet laat.

“Die krisisspan sal kontak maak met sulke persone, hetsy hulle beseer is, aan skok ly of die voorval aanskou het, en reël vir berading waar nodig,” het hy gesê.

Verskeie organisasies en individue het reeds uitgereik om ondersteuning aa te bied. Robb nooi organisasies of lede van die gemeenskap wat ook graag hul solidariteit en omgee op een of ander manier wil betoon, om die inbelsentrum te skakel of ‘n e-pos aan info@gogeorge.org.za te stuur sodat al die pogings gekoördineer kan word om ‘n daadwerklike verskil te maak waar nodig.

Latest news