GO GEORGE gereed om uit te rol na Thembalethu

9
Oct '22
George Mayor Leon van Wyk smiling while sitting at the drivers seat of a GO GEORGE bus
George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Leon van Wyk, tydens 'n besoek aan die George Link-busdepot.

Die uitvoerende burgemeester van George, raadsheer Leon van Wyk, het aangekondig dat die volgende stel roetes van die GO GEORGE-busdiens in November 2022 geaktiveer sal word om die busdiens na Thembalethu uit te brei, wat die huidige reikwydte van die stelsel sal verdubbel.

Na aanleiding van hierdie besluit tydens ‘n spesiale raadsvergadering wat op Woensdag 28 September 2022 gehou is, het die burgemeester sy vreugde uitgespreek dat hierdie punt uiteindelik bereik is. “Dit is ‘n belangrike geleentheid. Ons erken en waardeer die toewyding van die Uncedo-taxivereniging, die George-gemeenskapsforum, die Wes-Kaapse regering en die munisipale span wat al lank in gesprek is. Ons weet dat alle kwelpunte nie teen die tyd van die uitrol opgelos sal wees nie, maar ons bly daartoe verbind om gesprek met mekaar voort te sit en te verseker dat GO GEORGE ‘n waardige diens lewer aan die mense van Thembalethu wat al soveel jare wag,” het hy gesê.

Thembalethu-roetes

Met 10 hoofroetes wat in Thembalethu vertrek, sal passasiers direk na die middestad, nywerheidsgebied, Blanco en die Garden Route Mall kan reis. Vyf gemeenskapsroetes sal Thembalethu deurkruis, wat dit maklik maak om binne die gebied te reis of om by een van die hoofroetes aan te sluit wat Thembalethu verbind met bestaande GO GEORGE-roetes wat in en tussen die middestad, Pacaltsdorp, Denneoord, Loeriepark, Rosemoor, Blanco, Heatherlands, Heatherpark en die Garden Route Mall bedryf word. Drie vroegoggendroetes sal hospitaalpersoneel betyds vir hul vroeë skofte na hul werkplekke vervoer.

Gemeenskapskakeling

Die GO GEORGE-kommunikasiespan sien uit daarna om binnekort met die Thembalethu-gemeenskap te begin skakel om te verduidelik hoe die stelsel werk.

Maak kontak met GO GEORGE deur die Inbelsentrum te skakel by (0800 044 044), ‘n e-pos te stuur (info@gogeorge.org.za), of volg die GO GEORGE Facebook-blad om op hoogte te bly van verwikkelinge.

Latest news