Sewe jaar gelede het die eerste geskeduleerde busse van George se eie openbare busdiens op 8 Desember 2014 om 05:00 uit die Yorkstraat-depot vertrek en Fase 1 van die George Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerk (GIPTN) uitgerol.
Vandag is 24 van die beplande roetes reeds geaktiveer en dek dit ‘n netwerk van 142 km wat die strate van George deurkruis en inwoners in staat stel om werk en skool toe as ook na mediese- en gemeenskapsdienste en winkels oral in die dorp te ry.
“Hoewel daar baie uitdagings langs die pad was en ons baie graag verder gevorderd sou wou wees, met meer fases uitgerol, is ons is baie trots op wat ons tot dusver bereik het,” sê GO GEORGE-bestuurder, James Robb. “Afgesien van die toegewyde en hardwerkende arbeidsmag agter die busdiens, word die gevorderde vlak van tegnologie wat hierdie ingewikkelde stelsel aan die gang hou, voortdurend ontwikkel en aangepas om aan die behoeftes van ‘n topklas, geskeduleerde openbare busdiens soos GO GEORGE te voldoen.”
Intelligente vervoerstelsel
Die GIPTN het ‘n Intelligente Vervoerstelsel (ITS) wat intydse afstandsmonitering van roete- en roosternakoming moontlik maak, asook verskeie ander operasionele gedragsaanwysers soos spoed, harde rem en -versnelling, en noodoproepe van bestuurders. Die stelsel vertoon waarskuwings ten opsigte van afwykings van enige van die voorgeskrewe grense en hou ‘n deurlopende rekord van die kilometers, luiertye, wagtye, ensovoorts van alle voertuie.
Samelopend met voertuigopsporing, is busse ook toegerus met kameras op die voertuie wat gekoppel is aan ‘n opsporingstoestel wat die waarneming van die binnekant van die bus en die pad voor die bus moontlik maak.
Die ITS-moniteringsfasiliteit is gebaseer in die GIPTN-beheersentrum, in dieselfde ruimte as die GO GEORGE-inbelsentrum wat intydse terugvoering aan inbellers kan bied, asook die funksionaliteit om ouer beeldmateriaal op te spoor om klagtes te ondersoek. Aangesien die stelsel afhanklik is van konstante konnektiwiteit, is daar egter periodes van frustrasie wanneer diens nie op die verkose vlak en teen die nodige
spoed verskaf kan word nie, soos die geval is met baie plaaslike besighede wat onstabiele internetverbinding moet hanteer.
Vandalisme
“‘n Baie hartseer werklikheid van ons bedrywighede is die konstante vandalisering van ons busse en infrastruktuur,” sê Robb. “Die kameras aan boord is beslis nuttig in hierdie verband en moet as afskrikmiddel vir hierdie soort gedrag dien, maar ons sien steeds nie die afname wat ‘n mens sou verwag nie. Ons ontplooi vandeesmaand ‘n gefokusde anti-vandalisme-veldtog en mik om mense se houding te verander en in die nuwe jaar gemeenskappe se direkte betrokkenheid te kry om ons te help om vandalisme te stop.”
Outomatiese tariefinvordering
Die outomatiese GO GEORGE-tariefinvorderingstelsel het die tussentydse papierkaartjie laat in 2018 vervang. Met meer as drie jaar in bedryf het die stelsel ‘n kontantlose skanderingsfunksie ontwikkel wat passasiers toelaat om die GO GEORGE-busdiens gerieflik te gebruik deur hul persoonlike Slimkaart te skandeer.
Gekoppel aan die ITS, bied hierdie stelsel waardevolle insigte wat gebruik word om die gehalte van die GO GEORGE-diens vir die passasiers te verbeter. Sommige van hierdie insigte sluit in:
- ‘n Beter begrip van passasiers se reispatrone om beplanning te verbeter en te verseker dat busskeduleringsbesluite in lyn is met passasiersaanvraag.
- ‘n Meer datagedrewe verbetering van die Slimkaartprodukte met behulp van die stelsel om te verseker dat dit voldoen aan die behoeftes van passasiers.
- Ontwikkeling van strategiese ontplooiing van herlaaipunte en mobiele kiosks na gebiede waar opklimsyfers hoog is, en herlaaifasiliteite laag.
Digitale brandstofbestuurstelsel
George Link, die voertuigbedrysmaatskappy, het in 2018 drie dieseltenks met ‘n gesamentlike kapasiteit van 69 000 liter by die busdepot laat installeer.
John Heathcote, bedryfsbestuurder van George Link, sê die besparing aan die munisipaliteit deur op die perseel te hervul in plaas daarvan om etlike kilometers te ry om dit aan die einde van elke dag by ‘n buiteverkoper te doen, is sowat R90 000 per maand.
“Ons hervul nou op die terrein aan die einde van elke skof. Die bestuur van die voorraad en brandstofverbruik deur ‘n digitale stelsel laat my toe om deur ‘n toepassing op my slimfoon of skootrekenaar op hoogte van alles te bly vanaf enige plek in die land. Deur die data in sigbladformaat af te laai, kan ek elke hervulling nagaan deur middel van die busvlootnommer, die drywer en brandstofjoggie se identiteit, en die hoeveelheid brandstof wat ingeneem is, en uit watter pomp,” sê Heathcote.
Hierdie konstante oog op die brandstofverbruik van elke voertuig sowel as op die bestuurder wat die bus op daardie skof hanteer, waarsku ook die bestuur van oormatige verbruik wat ‘n meganiese ondersoek of die nagaan van die bestuurder se vaardighede in terme van brandstofekonomie kan vereis.
“Hoewel al die tegnologiese hulpmiddels indrukwekkend klink, is ons deeglik bewus daarvan dat die kern van ons diens in die houding, toewyding en deursettingsvermoë van ‘n ongelooflike span mense lê,” sê Robb.
“Daar is dikwels ‘n persepsie dat die stelsel ontwerp en bestuur word deur mense wat ver van grondvlak verwyder is, maar in werklikheid spandeer elkeen van ons spanlede elke week baie ure in die veld met waarneming van passasiersgedrag en beweging op roetes. Dit sluit die hele bestuurspan in – ons hou voortdurend data van verslae dop, asook klagtes of versoeke wat deurkom.
“Daar is ‘n dryfkrag en ‘n poging regoor die organisasie om nie roetes en skedules op ‘n stuk papier te beplan nie, maar om dinge op die terrein te evalueer en uit te tree, aan te raak en te voel en te sien wat die passasier sou doen. Ons kry dit dalk nie die hele tyd reg nie, maar elke uitdaging maak dat ons harder wil probeer en beter wil doen om ons gemeenskap te dien.”
Sien die GO GEORGE 7de verjaardag video: