Nasionale Vervoermaand
Die GO GEORGE-busdiens, wat 16 070 passasiers per weeksdag vervoer, het deel geword van die daaglikse roetine van ‘n groot deel van die George-gemeenskap wat nou vrylik van verskillende dele van die dorp kan reis om skool en werk toe te gaan, mediese fasiliteite te besoek, hul inkopies te doen of by familie en vriende te gaan kuier.
Oor die afgelope jaar, van September 2021 tot Augustus 2022, het GO GEORGE-busse 5 692 713 kilometer afgelê, 357 537 busritte gery en 4 580 776 passasiers vervoer.
Busvloot
Nadat die busdiens in Desember 2014 met 10 busse weggespring het, bestaan die GO GEORGE-vloot tans uit 54 standaardbusse, 33 midibusse en 35 minibusse. Bykomende busse sal beskikbaar wees vir die Thembalethu-diens.
Padnetwerk
Die padnetwerkdekking op die huidige 26 roetes is 142 kilometer, met die uitbreiding na Thembalethu wat nog 30 kilometer sal byvoeg. Dit is die totale lengte van die paaie waarop GO GEORGE-busse ry. Padopgraderings word deurlopend op hierdie paaie gedoen soos befondsing dit toelaat. Dit sluit paaie in wat tans gebruik word om die openbare vervoerdiens te lewer, asook paaie wat in die toekoms vir die diens benodig sal word.
Passasierstevredenheid tel
‘n Jaarlikse, onafhanklike opname word onder gebruikers van die busdiens gedoen om die algehele sosio-ekonomiese impak van GO GEORGE op drie hoofareas te bepaal: makro-ekonomiese, vervoer- ekonomiese en sosio-ekonomiese impak.
Die jongste resultate het bevestig dat die meeste passasiers tevrede is met GO GEORGE en die geleenthede wat dit bied ten opsigte van toeganklikheid en mobiliteit. Hulle waardeer die buigsaamheid van die stelsel en sê dit is veiliger en bekostigbaarder as hul vervoerdiens voor die implementering van GO GEORGE.
Gebruikerstevredenheid het aansienlik verbeter vanaf die vorige jaar, wat bevestig dat GO GEORGE se voortgesette verbintenis om ‘n openbare vervoerdiens van hoë gehalte te lewer, positiewe passasierservaring tot gevolg het.
Toeganklikheid kry hoë punte
Met toeganklikheid so ‘n hoë prioriteit vir GO GEORGE, was dit verblydend om te verneem dat alle passasiers met gestremdhede en 98% van passasiers met ander spesiale behoeftes GO GEORGE baie toeganklik vind, by bushaltes sowel as op busse, en dat dit aan hul reisbehoeftes voldoen. Interessant genoeg het 40% van die persone wat ondervra is, aangedui dat hulle spesiale behoeftes het wanneer hulle reis. Dit sluit in mense wat bejaard of swanger is, met klein kinders reis, of wat een of ander probleem met beweeglikheid het.
Passasiers is ook tevrede met die afstand van bushaltes vanaf hul huis en bestemming. As in ag geneem word dat minder as 30% van George-inwoners toegang tot ‘n privaat motor het, is GO GEORGE verbind daartoe om te verseker dat inwoners toegang tot die vervoerstelsel het.
Bekostigbaarheid
Passasiers meen dat hulle deur GO GEORGE te gebruik, meer geld beskikbaar het vir ander behoeftes. Die feit dat passasiers nie binne een uur vanaf die aanvang van hul reis weer betaal om tussen busse oor te klim nie, dra by tot die besparing op maandelikse reiskoste.
“Dit is die soort terugvoer wat ons wil hoor,” sê James Robb, waarnemende oorsigbeampte van openbare vervoer van die George-munisipaliteit. “Die prioritisering van belegging in openbare vervoer is nie meer net ‘gaaf om te hê nie’ – dit is ‘n absolute noodsaaklikheid. Die regering subsidieer openbare vervoer – GO GEORGE-ritte ingesluit – sodat niemand ‘n werksgeleentheid hoef weg te wys omdat hulle nie kan bekostig om werk toe te ry nie.”