GO GEORGE is gereed om volgende fase uit te rol

Die George-munisipaliteit in vennootskap met die Wes-Kaapse regering het aangekondig dat die volgende stel roetes van die GO GEORGE-busdiens in werking gestel word op Sondag 28 April 2019. GO GEORGE-busse sal op dié dag begin ry op roetes na Conville, Parkdene, Ballotsview, Lawaaikamp en Borcherds, die woonbuurte wat Fase 4B van die beplande roetenetwerk uitmaak.

Herhaalde pogings was aangewend om alle relevante rol spelers in Thembalethu, te raadpleeg rakende die beplande uitrol van Fase 4 A. Hierdie pogings was egter onsuksesvol en dus kon die sperdatum van April 2019 vir die uitrol van Fase 4A nie bereik word nie soos versoek was deur die Nasionale Departement van Vervoer.

Daar is egter besluit dat die raadsbesluit wat bepaal dat Fase 4 teen Junie 2019 uitgerol sal word, en as dit nie moontlik is om die busdiens in Thembalethu (Fase 4 A) uit te rol nie, dan sal Fase 4 B uitrol, geïmplementeer word.

George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Malvin Naik, het ’n beroep op alle rolspelers gedoen om ’n daadwerklike poging aan te wend om ’n vreedsame uitrol te bewerkstellig toe hy die aankondiging maak. “Ons moet alle bronne ontgin en ’n sukses maak hiervan,” het hy gesê. “Ons wil by al die ander areas binne die George-munisipale grense uitkom, maar die Raad se besluit is om Fase 4B nou uit te rol. Intussen sal die voorbereidingswerk om Fase 4A (Thembalethu) gereed te kry, voortgaan.”

Naik het gesê dit het baie langer geneem om by hierdie fase uit te kom as wat die munisipaliteit oorspronklik beplan het. “Maar agter die skerms was ons die hele tyd aktief aan’t beplan en ontwerp en terugkeer na die tekenbord. Ons bedank die mense van hierdie woonbuurte vir hulle geduld. Binnekort gaan hulle ook ’n geskeduleerde en bekostigbare openbare vervoerstelsel hê wat 16 ure per dag diens lewer sodat hulle meer dele van ons dorp kan verken en bereik vir werk, skool, gesondheidsdienste, sake en ontspanning. Die geleenthede wat hierdie tipe toegang kan ontsluit, is eindeloos.”

Vier roetes

Die vier roetes sal ry van Parkdene na die middedorp, Parkdene na die Garden Route Mall, Parkdene na Blanco, en sal ook ’n omvattende gemeenskapsroete wat die strate van Conville, Parkdene, Ballotsview, Lawaaikamp en Borcherds deurkruis, insluit. Dit sal hierdie woonbuurte verbind met bestaande GO GEORGE-roetes wat in en tussen die middedorp, Pacaltsdorp, Denneoord, Loeriepark, Rosemoor, Blanco, Heatherlands, Heatherpark en die Garden Route Mall ry.

Gemeenskapskakeling

Die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes (“champions”) sal vroeg in April van deur tot deur in die Fase 4B-area inbeweeg om gedrukte inligting oor die busdiens uit te deel en te verduidelik hoe die stelsel werk. Die handige roetegids sal voornemende passasiers in staat stel om hul roetes en ritte te beplan. Die GO GEORGE-kommunikasiespan sal terselfdertyd skole, klinieke, biblioteke en sentrale saamkomplekke besoek om groter groepe te bereik met die inligting.

Maak kontak met GO GEORGE deur die inbelsentrum op 0800 044 044 te skakel, via e-pos (info@gogeroge.org.za), of deur die GO GEORGE Facebook-blad te volg om op hoogte te bly met die jongste ontwikkelings.


Previous Article

Next Article