GO GEORGE ondersteun ‘Goeie Groen Dade’

DK en Simphiwe maak skoon

GO GEORGE se gemeenskapskakelbeampte, Simphiwe Schaap, en passasiersdiensbeampte Dieketseng Mosesane (regs) ywerig besig om hul 'goeie groen daad' te verrig as deel van die regering se inisiatief om mense se houding en gedrag ten opsigte van rommelbestuur te verander.

In reaksie op die regering se oproep tot betrokkenheid by hul veldtog om ontslae te raak van onwettige storting en rommelstrooiing in Suid-Afrika, het GO GEORGE-personeel verlede Vrydag
die gebied in en om die Vervoerkern (Transport Hub) in Cradockstraat getakel.

Die ‘Goeie Groen Dade’-program is ’n baanbrekende nasionale inisiatief om mense se houding en gedrag ten opsigte van verantwoordelike bestuur van afval te verander en is amptelik op 8 Maart 2019 deur president Cyril Ramaphosa van stapel gestuur.

“Een van die groen doelwitte van die GO GEORGE-busdiens is om die koolstofvoetspoor van gemotoriseerde vervoer te verklein deur selfs motoreienaars aan te moedig om liewer openbare vervoer te gebruik, en om tegnologie te gebruik wat tot ’n groot mate besoedelende brandstofgasse beperk,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Ons dink groen en ondersteun geheel en al hierdie poging van die regering. Wat rommelstrooiing spesifiek betref, moedig ons deurlopend passasiers aan om die vullisblikke by die Vervoerkern en bushaltes wat aangebring is vir die maklike weggooi van voedselomhulsels, koeldrankblikkies, buskwitansies ensovoorts, te gebruik.”


Previous Article

Next Article