GO GEORGE: Passasiers aan boord met nuwe Slimkaart

30
Oct '18
Soyabonga Myana gratis rit
Passasiers wat hul Slimkaarte vroeg koop, word beloon met gratis ritte oor naweke wanneer hulle hul kaarte toon, tot 11 November. Soyabonga Myana van Thembalethu het Saterdagoggend vroeg reeds ’n gratis rit gebruik om inkopies by die Garden Route Mall te gaan doen.

’n Aansporing om die nuwe GO GEORGE Slimkaart so gou moontlik te koop het sekerlik bygedra, maar die publiek se samewerking in aanloop na die aktivering van die geoutomatiseerde stelsel
verdien lof.

Dit is volgens GO GEORGE-bestuurder, James Robb, wat sê die uitrolproses is op skedule en verloop glad. Die amptelike implementeringsdatum van die Slimkaart is 15 November 2018, maar
passasiers sal hul kaarte vir die eerste keer op die bus tik op Sondag 18 November aangesien kaarthouers die eerste drie dae na implementering gratis mag ry wanneer hulle hul Slimkaarte toon.

“Ons vyf Slimkaartkiosks en twee mobiele Slimkaartvoertuie het ’n egalige vloei van kaartjiekopers ervaar, met ’n effense insinking teen maandeinde, maar passasiers het duidelik hul R20 opsy gesit toe hulle salarisse ontvang,” sê Robb. “Ons waardeer werklik die publiek se hulp om lang rye net voor implementering te voorkom.”

Slimkaartvoertuie sal na jou toe kom

Buiten die vaste weeklikse skedule wat hulle na verskillende gemeenskappe in die dorp neem, besoek die twee mobiele Slimkaartvoertuie ook besighede met ’n groot aantal busgebruikers om kaarte op hul perseel te verkoop. Werkgewers word genooi om GO GEORGE te skakel by 0800 044 044 om sulke besoeke te reël as hulle nie naby ’n kiosk of mobiele stilhouplek geleë is nie.

Op Donderdag 1 November skop nog ’n paar dienste in:

  • Die netwerk van herlaaipunte (top-up vendors) begin ritte verkoop en kaarte herlaai;
  • Slimkaartkiosks en -voertuie wat tot dusver net kaarte verkoop het, begin ook om ritte te verkoop en kaarte te herlaai;
  • Slimkaarte teen die normale prys van R40, sonder enige voorafgelaaide ritte, kan nou gekoop word deur mense wat nie enige geldige vorm van identifikasie het nie. (Die R20- aanbod vir eerste kaarte vereis geldige identifikasie.)

Herlaai betyds

Passasiers word aangemoedig om hul kaarte te herlaai voordat hul ritte heeltemal op is en nie wanneer hulle haastig is om betyds by ’n bestemming aan te kom nie. Die kombinasie van 28 herlaaipunte, vyf kiosks en twee mobiele voertuie wat gemeenskappe besoek behoort almal in staat te stel om buite spitstye te herlaai. Ritte wat op ’n Slimkaart gelaai word verstryk nooit nie en is
geldig tot dit gebruik word.

Vir meer inligting soos die skedules van die mobiele voertuie of jou naaste herlaaipunt, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044, stuur ’n e-pos aan info@gogeorge.org.za of volg GO GEORGE op Facebook vir die jongste nuus.

Latest news