GO GEORGE Slimkaart skop af!

13
Nov '18
Go George kinders gratis Smart Card ritte
GO GEORGE-passasiers wat hul Slimkaarte kon toon, kon die afgelope vier naweke gratis bus ry. Dié drie niggies en nefie was baie in hul skik met hul eie Slimkaarte en het die afgelope naweek ’n gratis pretrit geniet. Hulle is, van links, Reavone Twigg (10), Luzhane Mentoor (5), Deonisha Swartz (6) en Lilly Twigg (7). By hulle is Noxolo Nkulu die Slimkaartkassier by wie hul kaarte gekoop is.

Ná maande van beplanning en voorbereiding tree die GO GEORGE Slimkaart uiteindelik op Donderdag 15 November 2018 in werking.

Die kleurvolle bewusmakingsveldtog is opgevolg deur ’n opvoedkundige veldtog om passasiers in te lig en voor te berei om hul kaarte reg te gebruik wanneer die groot dag aanbreek.

“Hierdie is ’n reuse verandering aan die manier waarop passasiers hul vervoer tot nou bestuur het,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Ná vier jaar van bus ry werk toe en skool toe sou hulle sekere gewoontes ontwikkel het in terme van hoe en waar om kaartjies te koop, en hoeveel. Ons span het baie hard gewerk om soveel moontlik inligting en besonderhede te deel en om vrae te beantwoord nog voor dit gevra word.”

Hoewel die amptelike wegspringdatum 15 November is, kan passasiers wat hul Slimkaarte kan toon met die opklimslag gratis ry vir die eerste drie dae ná implementering, dus Donderdag, Vrydag en Saterdag, 15 – 17 November. Hulle betaal vir die eerste keer vir ritte met die kaart op Sondag 18 November.

Wat van oorblywende papierkaartjies?

Hoewel passasiers sterk aangemoedig word om hul Slimkaarte so gou moontlik te kry en te gebruik, sal papierkaartjies steeds aanvaar word tot 14 Desember.

“Dit was egter duidelik tydens die oorgangsweek toe sommige busse reeds toegerus is die nuwe Slimkaartmasjien, dat dit ongelukkig ekstra tyd neem vir die busbestuurder om eers die papierkaartjie met die hand te pons en die oorklimkwitansie uit te druk,” sê Robb.

“Gelukkig is dit tydelik en sal nuwe gewoontes wat die nuwe proses ook weer bekend, vinnig en gerieflik maak, gou ontwikkel. Hoe meer passasiers Slimkaarte gebruik, hoe vinniger sal die opklimproses word, en hoe gouer sal die ware voordele van die Slimkaart ervaar word. Intussen is ons ten volle bewus van die ongerief van die oorgangsperiode en doen ons ’n beroep op werkgewers om verdraagsaam te wees teenoor werkers wat laat kom vir werk weens die stelselverandering.”

Herlaai betyds

Slimkaarthouers word aangemoedig om ’n toestroming by herlaaipunte te vermy en betyds ritte op hul kaarte te laai vir gebruik vanaf Sondag 18 November 2018.

Vir meer inligting oor die Slimkaart, skakel die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044, volg GO GEORGE op Facebook of stuur ’n e-pos aan info@gogeorge.org.za.

Latest news