GO GEORGE-passasiers wat na en van Loeriepark reis, behoort van hierdie week af nie te sukkel met plek op die namiddagbusse nie.
Vanaf Maandag 12 Maart 2018 word Roete 24 CBD – Loerie Park – Garden Route Mall op weeksdae tussen 12:30 en 15:45 deur groter busse bedien. Hierdie aanpassing is in reaksie op die namiddag-kapasiteitsprobleme wat by haltes in Loeriepark en Bergsig ondervind word.
Volgens Morné Lakay, assistent-bestuurder van GO GEORGE, het die reispatrone van passasiers wat van die Garden Route Mall af middedorp toe ry ’n merkbare impak op die kapasiteit in Loeriepark, veral vandat die roete verander is om by die Mall te gaan draai. "Ons het gehoop dat meer Mall-passasiers die Rosemoor-busse na die middedorp sou gebruik, of nog beter, die direkte Roete 7. Maar ten spyte van pogings en versoeke om plek te laat op Roete 24 vir passasiers wat in Loeriepark en Bergsig moet opklim, het ons nie voldoende samewerking gekry nie," sê hy.
Weens passasiersvolumes wat wissel op verskillende tye van die dag, is Roete 24 tot nou hoofsaaklik deur minibusse bedien, met net drie ritte in oggendspitstyd wat deur midibusse onderneem is. Die minibus dra 13 sittende passasiers, terwyl die midibus 40 sittende en 38 staande passasiers akkommodeer, en die standaardbus 44 sittende en 40 staande passasiers.
"Ná deeglike waarneming en beplanning, glo ons dat die ontplooiing van midi- en standaardbusse tussen12:30 en15:45 op weeksdae genoeg kapasiteit sal voorsien vir skoolkinders, huiswerkers en gesondheidsorgpersoneel op dié roete wat daardie tyd van die dag vervoer nodig het," sê Lakay.
Vir enige navrae, skakel gerus die GO GEORGE-inbelkantoor by 0800 044 044 tussen 05:00 en 21:30, elke dag.