GO GEORGE verfyn mobiele skedule vir Slimkaartgebruikers

A minibus branded in the GO GEORGE colours of white, green and blue with a picture of a GO GEORGE Smart Card on the side. The writing on the minibus reads, “Smart Card Mobile Kiosk”.

Die mobiele Slimkaartvoertuie is duidelik gemerk en is maklik sigbaar waar hulle vir ongeveer drie uur op 'n slag parkeer om diens te lewer aan passasiers wat nie nabye toegang tot ander herlaaipunte het nie. Die voertuie verkoop ook Slimkaarte.

GO GEORGE het verfynings aan hul huidige skedule vir die mobiele Slimkaartkiosks aangekondig ter wille van passasiers wat nie binne maklike bereik van vaste herlaaifasiliteite is nie.

Die Slimkaart is tans die enigste manier om vir ritte te betaal sedert kontantbetalings op die bus in Junie verlede jaar opgeskort is as een van die busdiens se Covid-19-voorsorgmaatreëls. Passasiers kan hul kaarte met ritte herlaai by enige van die vaste Slimkaartkiosks of sakeondernemings en individue wat geregistreer is as herlaaipunte (vendors), of by een van die twee mobiele Slimkaartkiosks wat deur die dorp rondbeweeg en parkeer volgens ‘n vaste weeklikse skedule. Die mobiele kiosks verkoop ook Slimkaarte.

Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, het die toename van herlaaipunte in die verskillende dele van die dorp deels die hersiening van die mobiele skedule genoodsaak. “Ons is verheug oor die aantal besighede wat die afgelope paar maande by die netwerk aangesluit het. Dit stel ons in staat om die mobiele kiosks uit sommige van die gebiede waar ons nou genoeg herlaaipunte het, te onttrek en ons wil passasiers regtig aanmoedig om hul plaaslike besighede te ondersteun deur in hul woonbuurt te herlaai,” het Robb gesê.

“‘n Paar mobiele stilhouplekke waar weeklikse verkope baie laag is, sal ook verskuif word na gebiede waar ons glo dit ons passasiers beter sal baat. Terugvoer van ons spanne op die grond het byvoorbeeld aangedui dat passasiers Vrydagmiddae ‘n mobiele kiosk by Shoprite in Markstraat in die middedorp sal waardeer wanneer mense hul weeklikse inkopies doen. Nog ‘n versoek het gekom van Pacaltsdorp waar dit lyk of daar Maandagoggend in spitstyd ‘n behoefte aan ‘n mobiele kiosk by die Protea-terminus is. Ons kon die skedule herskommel om aan albei hierdie versoeke te voldoen.”

Die nuwe skedule sal op Sondag 19 September 2021 geïmplementeer word. Aangesien nuwe herlaaipunte steeds by die netwerk gevoeg word, sal die skedule van tyd tot tyd hersien word.

Die mobiele kiosks deel sedert verlede week pamflette uit wat passasiers in kennis dat die diens op ‘n spesifieke punt beëindig word en wat die ligging van herlaaipunte in hul gebied aandui. Die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes sal vandeesweek pamflette met die nuwe skedule begin versprei. Die pamflette sal ook beskikbaar wees by alle Slimkaartkiosks en mobiele kiosks, sowel as die inligtingskiosk by die Vervoerkern (Transport Hub) in Cradockstraat. Passasiers kan ook gaan inloer by die GO GEORGE Facebook-blad vir die mobiele skedule en die jongste busverwante nuus, die Timetables-bladsy, ‘n e-pos aan info@gogeorge.org.za stuur, of die Inbelsentrum by 0800 044 044 skakel om navraag te doen oor die naaste stilhouplek van ‘n mobiele kiosk.


Previous Article

Next Article