‘n Onlangse busrit na die Garden Route Mall was soos verwag kon word ‘n aangename uitstappie vir die jong volwassenes met gestremdhede wat aktiwiteite by die Optima-sentrum van die George Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) in Pacaltsdorp bywoon. Dit was egter ook ‘n uiters insiggewende terugvoergeleentheid vir die GO GEORGE-busdiens.
As deel van voortgesette betrokkenheid by die gestremdheidsektor het GO GEORGE die groep van 22 Optima-deelnemers en twee personeellede vergesel op ‘n geskeduleerde busrit wat van ‘n bushalte naby die sentrum vertrek het. Sommige van hulle het nog nooit voorheen bus gery nie.
Selfs die wag by die bushalte het die groep laat glimlag by die aanhoor van Robin Mouton, ‘n inspirerende en vindingryke blinde passasier wat een van die kommunikasiespanlede wou motiveer om sy passie vir musiek na te streef – ‘n onderwerp waarvan hy ‘n uitgebreide kennis en begrip het.
Hierdie tyd is ook konstruktief gebruik om die jongmense in te lig oor die busfasiliteite wat gemik is op universele toeganklikheid vir passasiers, soos die tasbare plaveisel by die bushalte, die verhoogde platform om die instap in die bus te vergemaklik, klankwaarskuwings dat die skuins loopvlak ontplooi word en nog nie gereed is vir blinde passasiers of mense wat mobiliteitstoestelle gebruik om in te klim nie. Algemene wenke oor die gebruik van die diens het ingesluit waar om te kyk vir die regte bus en roete, hoe om die Slimkaart te skandeer en die gebruik van die prioriteitsitplekke vir passasiers met spesiale behoeftes, asook om die knoppie te druk om die bus te versoek om te stop.
Terug by Optima ná die uitstappie het die G0 GEORGE-span ‘n informele terugvoersessie met die groep aangelê om hul ervaring te evalueer en inligting in te samel wat toekomstige ondersteuning en leiding oor die gebruik van die busdiens kan rig.
“Tyd saam met ons passasiers wat spesiale behoeftes het, laat ons altyd met baie om oor na te dink,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Die stelsel is ontwerp om so gebruikersvriendelik as moontlik vir al ons passasiers te wees, maar dit sal vermetel wees om aan te neem dat ons aan alles gedink het en dat alle behoeftes aangespreek word. GO GEORGE waardeer en moedig terugvoer van alle kategorieë busgebruikers aan en poog deurlopend om die diens dienooreenkomstig te verbeter waar moontlik.”
Enigiemand wat meer inligting oor die busdiens benodig, is welkom om die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel, hierdie webwerf te besoek, of die Facebook-blad te volg om op hoogte te bly van die jongste busnuus- en dienskennisgewings.



