Olwethu Sayidini, ’n leerder van Hoërskool Pacaltsdorp, is onder luide en vreugdevolle applous aangekondig as die algehele wenner van die GO GEORGE Anti-vandalisme Rap-kompetisie vir hoërskole wat op Woensdag 10 Augustus 2022 in die George Kunsteteater gehou is. Sy treffende koorlirieke sal nog lank bly draai in die gehoor se geheue: “Please stop the vandalism, it is not a pranksterism, you don’t want to end up in prison!”
Die naaswenners is albei van Hoërskool George: Graziel Heathcote (tweede plek) en Likho Ntshohgontshi (derde plek). Die drie wenners is gekies uit 10 finaliste wat deur agt hoërskole in George ingeskryf is.
Die kompetisie het deel gevorm van ‘n gefokusde veldtog deur GO GEORGE om aandag te vestig op die kommerwekkende sosiale kwessie van vandalisme, en spesifiek die vandalisering van GO GEORGE-infrastruktuur (busse en skuilings) wat teen hoë koste tot voordeel van die gemeenskap verskaf word.
Deelnemers moes voldoen aan spesifieke kriteria soos die gebruik van die woorde GO GEORGE en vandalisme, benewens die vereiste dat die inhoud op geen manier aanstootlik moet wees nie en geskik moet wees vir verspreiding. Die oorspronklike lirieke waarmee die deelnemers vorendag gekom het, was inspirerend en kragtig en het verwys na die negatiewe invloed van vandalisme op hul gemeenskappe en die busdiens, asook die gevolge vir die oortreder. Die boodskappe sal versterk word deur die media te gebruik waarop die jeug reageer, soos Facebook, TikTok en Instagram.
George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Leon van Wyk, het die pryse aan die drie wenners oorhandig. Hy het die belangrikheid daarvan om vandalisme te voorkom, beklemtoon. “Ons is deeglik bewus daarvan dat GO GEORGE en die munisipaliteit se anti-vandalisme-dryfkrag gebore is uit die noodsaaklikheid om ‘n einde te maak aan die plaag van vandalisme in ons dorp en in ons gemeenskappe,” het hy gesê. “Vandalisme is nie ‘n poets of ‘n speletjie nie; dit is ‘n kriminele oortreding wat blywende gevolge vir die oortreders kan hê. Ek is werklik bemoedig deur wat ek vanaand gesien en gehoor het – vandalisme moet ten alle koste ontmoedig word. Ek glo hierdie kompetisie verteenwoordig ‘n baie relevante en kragtige vorm van uitdrukking wat deur ons jeug gebruik word en wat die mag het om hul portuurgroep te beïnvloed.”
Die wenner van die kompetisie het Beats Solo3 draadlose oorfone ontvang, die tweede pryswenner ‘n stel Skullcandy draadlose oorfone, en die wenner van die derde prys is huis toe met ‘n JBL flip 5 Bluetooth-luidspreker. Elke finalis het ‘n geskenksak met koopbewyse of produkte van verskeie borge ontvang, waaronder Margot Swiss, Watsons Vleis, Coca-Cola, Root Café, Nando’s, RocoMamas, Spur en Panarotti’s.