As deel van GO GEORGE se deurlopende program om opvoedkundige materiaal vir gebruik in skole te ontwikkel, is twee opwindende toevoegings tot die versameling nou bekendgestel.
Die GO GEORGE-legkaart met 120 stukke, gemik op graad 1, 2 en 3 en ’n kleurvolle aktiwiteitsboekie vir graad 4’s is ontwerp om in samehang met die skoolleerplan oor openbare vervoer gebruik te word.
Albei die items word tans uitgedeel aan skole in die gebiede waar die busdiens reeds aktief is, en die legkaart ook aan die munisipale biblioteke vir gebruik in hul opvoedkundige programme.
’n GO GEORGE-bordspeletjie was die eerste item wat vir gebruik in skole ontwerp is en is sedert die bekendstelling daarvan in November 2017 duidelik ’n groot treffer by die jongspan wat al spelende leer.

