Kleingoed word bus-slim

George Preprimêr op bus

Die "rooi span" is eintlik die graad R- geel klas van George Preprimêr, erg opgewonde en gereed vir hul busrit. Elke kind het ’n nekband met ’n spesiale kaartjie waarop "Ek was op die GO GEORGE-bus" staan, asook ’n GO GEORGE-toerygrugsakkie ontvang. Regs staan Juffrou Collette Rossouw wat duidelik die GO GEORGE-gedragsreëls by haar klas ingeskerp het. Al die antwoorde was reg toe sy haar klas getoets het oor gepaste gedrag op die bus.

In George word daar deesdae ’n nuwe geslag bus-slim kinders grootgemaak. Etlike kleuterskole, bewaarskole en preprimêre klasse het GO GEORGE reeds deel gemaak van hul leerplan oor vervoer en neem dan die kleingoed vir ’n busrit om die kennis ook prakties te ervaar.

GO GEORGE staan reg met personeel wat onderwysers help met die beplanning en reëlings vir hierdie uitstappies om by die vaste busskedule in te pas, en die kinders so naby moontlik aan hul skole op ’n bus te laat klim. ’n Personeellid of twee sal altyd saam met die groep ry, interessante inligting oor die busstelsel verskaf en enige vrae beantwoord. ’n Baie interessante vraag het verlede week by die graad R- geel klas van George Preprimêr opgeduik: Kan die kameras in die busse sien as ’n mens in jou neus krap?

Belangstellendes wat hulp benodig met die beplanning van sulke uitstappies is welkom om die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel, of ’n e-pos te stuur aan info@gogeorge.org..za.

GO GEORGE bushalteteken

Karen Lamberts van die GO GEORGE-kommunikasiespan verduidelik aan die Graad R- geel klas van George Preprimêr wat die inligting op die bushalteteken beteken. Almal het mooi geluister en handjies gelyk in die lug op gesteek toe hul bus nader kom, om vir die busbestuurder aan te dui dat hy vir hulle moet stop.

Plaveisel by bushaltes

Die George Preprimêr-graad R’s was aangegryp deur Karen Lamberts (GO GEORGE-kommunikasiespan) se verduideliking dat die geriffelde plaveisel by bushaltes gesiggestremde passasiers help om hul pad in die bus in te vind.

GO GEORGE by Botaniese Tuin

Die graad 0-klas van Glenwood House het met die bus Botaniese Tuin toe gery as deel van hul huidige tema, “My stad George”. Met ’n GO GEORGE-bushalte digby die tuin, is hierdie ’n gewilde bestemming vii skoolgroepe wat ’n uitstappie per bus wil doen.

Kleuter op GO GEORGE

Dit was ’n baie koue en winderige dag toe Glenwood se 44 Graad 0-leerders hul bus-avontuur Botaniese Tuin toe aangepak het. Juffrou Samela Fuzile en Madison Potterton het lekker warm aangetrek om die weer te trotseer.


Previous Article

Next Article