Konstruksie van twee nuwe verkeersirkels wat binnekort in Yorkstraat begin, sal padgebruikers, insluitend die GO GEORGE-busdiens, raak.
Werk aan die beplande sirkels op die gedeelte van die pad tussen die Hoopstraatsirkel en die George Link-busdepot, naby Mount View Oord, sal op 5 Augustus begin as alles volgens plan verloop, en sal tot minstens die einde van die jaar duur. Die sirkels is nodig om die bykomende verkeer wat na verwagting deur voorgestelde ontwikkelings in die gebied gegenereer sal word, te akkommodeer. Die projek word deur private belanghebbendes befonds.
Volgens Morné Lakay, GO GEORGE se waarnemende bestuurder, word geen herleiding van busse beplan nie. “Aangesien die projek te alle tye met een baan oop bedryf sal word, sal ons ons Pacaltsdorp-busse op die roete kan hou, maar passasiers sal hul ongelukkig moet voorberei vir vertragings, veral gedurende spitstye,” het hy gesê. “Om hierdie rede moedig ons passasiers aan om ‘n vroeër bus as gewoonlik te neem, om steeds betyds by die werk en skool te kom. Ons vra om verskoning vir die ongerief, maar vertrou dat almal ‘n manier sal vind om te beplan rondom die vertragings wat buite ons beheer is.”
Bushaltes wat geraak word
Die twee Skatelab-bushaltes naby die George Link-busdepot sal gedurende die konstruksietydperk gesluit word terwyl passasiers wat normaalweg hierdie haltes gebruik, versoek word om hul naaste alternatiewe halte in die omgewing te gebruik. Die Hoop 112-bushalte tussen die Mount View-ingang en die Hoopstraatsirkel sal tydelik na die brugkant van die sirkel verskuif word vir passasiers se gerief.
Passasiers wat hulp nodig het met die beplanning van hul ritte is welkom om die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel, of ‘n e-pos aan info@gogeorge.org.za te stuur.