Multirit-aankope op Slimkaart baie goedkoper

20
Jun '22
GO GEORGE Slimkaartkiosks verkoop kaarte en herlaai ook kaarte met ritte.

Koop voor tariefverhoging en spaar

Om grootmaat te koop, is die slim keuse as jy jou Slimkaart met busritte aanvul – dit is baie goedkoper én boonop geriefliker. Herlaai voordat jy geen ritte oor het nie, en doen dit wanneer jy nie haastig is om by die werk of skool te kom nie.

Dit is die kernboodskap wat GO GEORGE oordra in die tydperk wat die jaarlikse tariefverhoging op 1 Julie voorafgaan.

Goedkoper hoe meer jy koop

Slimkaartritte wat in bondels van 10 of meer gekoop word, kos R11 per rit en bly die beste koop, bondels van twee tot agt ritte kos R12,25 per rit, en enkelritte kos R15. ‘n Passasier wat die bus vyf dae per week gebruik, kan tot R176 per maand bespaar deur bondels van 10 ritte en meer te koop, in plaas daarvan om een rit op ‘n slag te laai.

Koop voor tariefverhoging en spaar

Ritte op die Slimkaart verval nooit nie, so daar is geen risiko om ritte te verloor nie, selfs al ry jy nie gereeld bus nie. Om dieselfde rede is dit ‘n slim skuif om meer ritte te laai voordat die tariefverhoging inskop, maar passasiers word aangeraai om hul Slimkaarte so versigtig soos kontant te hanteer aangesien ritte op ‘n verlore of gesteelde kaart nie terugbetaal kan word nie.

Herlaai betyds

Passasiers word aangeraai om nie te wag totdat hulle geen ritte oor het nie, en om altyd ten minste twee noodritte op hul Slimkaarte te hou. Om op jou pad werk of skool toe te herlaai, kan frustrerend wees wanneer die rye lank is, of wanneer iets onvoorspelbaars soos beurtkrag verhoed dat die verkoper of kiosk op daardie tydstip ritte kan verkoop. Dit sal beter wees om buite spitstye te herlaai op ‘n tyd wanneer jy nie jaag om betyds by jou bestemming te wees nie.

Slimkaart kiosks is oop van 05:00 tot 20:00 en is geleë by die George-vervoerkern (Transport Hub) in Cradockstraat, by die Blanco-driehoek en by die Garden Route Mall. ‘n GO GEORGE-toonbank is in die munisipaliteit se betaalsaal ingerig om in passasiers se behoeftes gedurende munisipale werksure te voorsien terwyl ‘n nuwe vaste kiosk in Yorkstraat gevestig word. Die kiosks se dienste sluit beide Slimkaart- en ritverkope in.

Die netwerk van herlaaipunte in besighede regoor die dorp herlaai slegs kaarte. Kyk uit vir die “GO GEORGE vendor”-borde, of vir ’n volledige lys van alle herlaaipunte, besoek die GO GEORGE Facebook-blad of skakel die inbelsentrum by 0800 044 044. Agente is van 05:00 tot 20:00, sewe dae per week aan diens. Navrae kan ook per e-pos gestuur word aan info@gogeorge.org.za.

Latest news