Die George-munisipaliteit het die jaarlikse verhoging van die GO GEORGE-bustariewe vanaf 1 Julie 2022 bekendgemaak. Hierdie verhoging is deel van die jaarlikse munisipale tariefaanpassings.
Bondels steeds die beste koop
Slimkaartritte wat in bondels van 10 of meer gekoop word sal met slegs 50c per rit verhoog na R11.00 en bondels van minder as 10 ritte sal R12.25 per rit kos (’n 75c-verhoging). Die prys van enkelritte verhoog met R1 na R15 om passasiers aan te moedig om liewer die goedkoper ritte te koop en om lang rye elke paar dae te vermy.
Die bondels van 10 ritte en meer bly die beste koop en kan ’n passasier wat vyf dae per week werk of skool toe en terug huis toe ry, R176 per maand in vervoeruitgawes spaar, vergeleke met enkelritte wat op die kaart gelaai word.
Gratis ritte vir eerstekaartkopers
Die prys van die Slimkaart is R25 met kopers van hul eerste kaart wat twee gratis, voorafgelaaide ritte op die kaart kry indien hulle ‘n geldige bewys van identiteit toon.
Ritte wat op die Slimkaart gelaai is, verval nooit nie. Dit beteken dat ritte wat voor die tariefverhoging gekoop is geldig bly. Passasiers is welkom om voor die verhoging meer ritte as gewoonlik te koop om geld te spaar, maar word gemaan om hul kaarte veilig te hou – indien dit wegraak of gesteel word, kan die ritte nie op ’n nuwe kaart oorgedra word nie.
Vir meer inligting, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044, of stuur ’n e-pos na info@gogeorge.org.za.