Herhaalde vandalisering van GO GEORGE-infrastruktuur in sommige van die gemeenskappe wat reeds die voordele van die stad se openbare busdiens geniet, het ’n kritieke punt bereik met die George-munisipaliteit met hul hande in die hare.
Die langverwagte busskuilings is spesifiek ’n teiken. Van die 68 skuilings wat reeds geïnstalleer is, is 52 (77%) gevandaliseer. Dit sluit in 83 glaspanele (sy- en rugpanele) en 7 Perspex-panele wat gebreek of verwyder is, en 33 panele wat deur graffiti ontsier is. Die siviele ingenieursdepartement kan skaars voorbly met die verwydering van gevaarlike skerwe, terwyl herstelwerk wag vir die uitslae van verskeie materiale wat getoets word om dié wat konstant gevandaliseer word te vervang. Dit vertraag ook die skedule van skuiling-oprigting aangesien nog 44 skuilingrame in die fabriek wag om voltooi te word met die gekose panele voordat dit geïnstalleer kan word.
As deel van deurlopende navorsing en toetsing om ’n oplossing vir die probleem te vind, word beskadigde panele by sommige van die gevandaliseerde skuilings tans vervang met geperforeerde staal, Perspex, Plexiglass en soliede staalplate om duursaamheid te toets. Volgens die skuilingontwerpers bestaan die oorspronklike glaspanele uit drie lae glas wat beslis nie gebreek kan word deur ’n jong persoon wat ’n klip gooi nie, maar ’n daadwerklike poging met swaar voorwerpe verg om die soort skade wat by beskadigde skuilings gesien word, aan te rig.
Die aanvanklike glaspanele is gekies vir veiligheidsredes om sigbaarheid van passasiers binne die skuiling te verseker, sowel as om passasiers in staat te stel om aankomende busse te sien. Hierdie praktiese, en in sommige gevalle wetlike voorskrifte sal dalk aangepas moet word om die skuilings in een stuk te hou.
George se munisipale bestuurder, Trevor Botha, het hom sterk uitgespreek teen hierdie kriminele gedrag. “Deur hierdie strukture te vandaliseer en te beskadig, ontneem die oortreders daardie lede van die gemeenskap wat dit die nodigste het. Die koste van een skuiling is R52 000, en dit sluit voorbereiding van die terrein en installering uit. Ondersoek, die insameling van kwotasies, en herstelwerk aan beskadigde skuilings neem tyd, en totdat dit afgehandel is, is ons passasiers die slagoffers wat verontrief en aan die elemente blootgestel word,” het hy gesê.
Botha doen ’n beroep op die publiek om vandalisme te ontmoedig, te help stop en aan te meld. “Ons moet op die gemeenskap staat maak om ons hiermee te help. Teen die tyd wat ’n aanmelding ons bereik, is die skade reeds gedoen. Ons sal regtig die gemeenskap se ondersteuning om hierdie optrede te stuit, waardeer. GO GEORGE is die gemeenskap se busdiens – kom ons neem almal eienaarskap en vat hande om die duur infrastruktuur wat nodig is vir die busdiens om doeltreffend te funksioneer, te behou. Die koste om gedurig gevandaliseerde voertuie en infrastruktuur te herstel kan uiteindelik ’n impak hê op die koste van jou buskaartjie.”
Die publiek word versoek om vandalisme direk by GO GEORGE aan te meld. Skakel die GO GEORGE-inbelkantoor by 0800 044 044 (beman van 05:00 – 21:30, daagliks), stuur ’n e-pos na info@gogeorge.org.za, of laat ’n boodskap op GO GEORGE se Facebook-blad.