Ná twee jaar van beperkte kontak met leerders, maak skole in George stadig hul deure oop vir noukeurig beplande besoeke van die GO GEORGE-kommunikasiespan en natuurlik, die gewilde gelukbringer, Georgie.
Met al die nodige Covid-19-veiligheidsmaatreëls in plek, het Georgie en sy span gedurende Maart ‘n wye toer van preprimêre klasse en laerskole aangepak. Hulle is verwelkom met luide gejuig, sang en gretige jong breine gereed om te leer oor openbare vervoer, daardie allerbelangrike Slimkaart, voetgangerveiligheid naby die busse en hoe om jou op die bus te gedra. Die onderwerp van vandalisme is ook op ‘n ouderdomsgepaste wyse aangespreek.
Die busvormige fotobanier met vensters om deur te loer, is ‘n besliste gunsteling onder die kleingoed – dit is nou nadat Georgie eers ‘n drukkie gekry het.
Enige organisasie of skool wat belangstel in ‘n besoek van GO GEORGE kan die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 skakel om kontak van die kommunikasiespan te versoek.




