PACALTSDORP ROADWORKS

Road upgrades starting in Pacaltsdorp on Monday 14 October 2024 will impact several GO GEORGE bus routes.

Wangebruik van prioriteitsitplekke op busse ’n groot problem

10
Apr '18
Passasier in prioriteitsitplek
Die prioriteitsitplekke op die GO GEORGE-busse is bedoel vir passasiers met spesiale behoeftes, wat meer ruimte benodig. Dit sluit swanger vroue en bejaardes in, asook gestremde mense en diegene met beweeglikheidsprobleme, en mense wat met babas, stootwaentjies of klein kindertjies reis. Hierdie bejaarde dame met ’n beseerde en verbinde been het meer ruimte nodig om gemaklik te reis.

"Mense kort vandag net maniere; hulle is baie selfsugtig"

Om toeganklikheid en ’n veilige rit vir alle passasiers te verseker, is die GO GEORGE-busvloot ontwerp met ’n aantal rooirug-prioriteitsitplekke wat toegewys is aan passasiers met spesiale behoeftes. Volgens toeganklikheidsregulasies moet alle kategorieë van spesiale behoeftes geakkommodeer word, wat swanger vroue en bejaardes insluit, asook gestremde mense en diegene met beweeglikheidsprobleme, en mense wat met babas, stootwaentjies of klein kindertjies reis.

Swanger passasiers wat die busdiens gebruik, het klaarblyklik genoeg gehad en dien toenemend klagtes in oor ander passasiers wat nie die reisvoorwaardes nakom nie en weier om die prioriteitsitplekke vir hulle beskikbaar te stel.

Volgens sommige van dié vroue is medepassasiers gewoon onbeskof en weier om die sitplek af te gee, "want hulle betaal mos ook vir die kaartjie". "Dit is net gesonde verstand en maniere," sê een passasier. "My ouers het nooit nodig gehad om vir my te sê om op te staan vir ’n swanger vrou nie; jy het net geweet jy doen dit. Dis dieselfde vir oumense of gestremdes, maar mense kort vandag net maniere; hulle is baie selfsugtig."

Ten spyte van voortgesette pogings en veldtogte om passasiersgedrag te verbeter, bly die probleem van wangebruik van die prioriteitsitplekke onveranderd. Daar is net nie samewerking ten opsigte van respek en bedagsaamheid teenoor mense met spesiale behoeftes nie.

"Dit lyk of ontevrede passasiers van die busbestuurder verwag om onbedagsame en onwillige passasiers aan te spreek en hulle so ver te kry om die prioriteitsitplekke af te gee," sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. "Omdat die busbestuurders veronderstel is om die bus te hanteer en kaartjies te verkoop en te knip, mag hulle ongelukkig nie hul sitplekke verlaat terwyl die bus in diens is nie. In hierdie stadium kan ons niemand dwing nie, maar net hul respek en samewerking versoek. Die reël oor prioriteitsitplekke is deel van ons Reisvoorwaardes (Conditions of Carriage) waarvan ’n afdruk binne elke bus opgeplak is. Passasiers is welkom om dit aan oortreders uit te wys."

’n Plakker wat aandui watter passasiers kwalifiseer, is aan die kant van die prioriteitsitplekke te sien. Robb moedig passasiers wat geregtig is op hierdie sitplekke om wie ook al daarop sit, te nader en vriendelik te versoek om die sitplek te gebruik, indien dit nie reeds deur ’n passasier met spesiale behoeftes beset word nie.

Soos een ontnugterde passasier dit stel: "Aan al daai swanger vroue daar buite, ek stel voor jy aanvaar nie die wêreld wag om hulle sitplek vir jou aan te bied nie. Dit gaan net nie gebeur nie. As jy dit nie vra nie, kry jy dit nie. Dis so eenvoudig soos dit."

Latest news