Maak gereed om veilig bus te ry skool toe

11
Jan '22
Dieketseng Mosesane, toesighouer van die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes, gebruik 'n skoolroetekaart om aan 'n leerder die verskillende opsies wat beskikbaar is om per bus skool toe te ry, te verduidelik. Hierdie kaarte kan ook van die webblad afgelaai word by https://www.gogeorge.org.za/school-routes/.

Met die nuwe akademiese jaar wat volgende week afskop, begin ouers se uitdaging met dol vervoerskedules om hul kinders by die skool af te laai en op te tel. Ouers van leerders wat van die GO GEORGE-busdiens gebruik maak om by die skool uit te kom, word aangemoedig om hul kinders te help om betyds alles hiervoor gereed te kry.

Dit is belangrik om ‘n GO GEORGE Slimkaart te kry en genoeg ritte te laai voordat skole begin, en nie te wag totdat leerders geen ritte oor het voordat hulle weer herlaai nie. Die Slimkaart moet met dieselfde sorg as enige bankkaart of kontant hanteer word; as dit wegraak, kan ritte op die kaart nie terugbetaal of na ‘n nuwe kaart oorgedra word nie.

Skoolroetekaarte

Go GEORGE-passasiersdiensbeamptes sal weens Covid-19-veiligheidsbeperkings nie aan die begin van die skooljaar alle skole soos gewoonlik kan besoek nie. Hulle sal egter gedurende die eerste paar weke van die skoolkwartaal by die bushaltes naby skole wees om leerders in te lig oor die verskillende roetes skool toe. Unieke kaarte wat die verskillende opsies skool toe en terug huis toe uitbeeld, is vir elke skool geskep en is aan die einde van verlede jaar by die meeste laerskole afgelewer om aan graad 7-leerders wat die bus na hul hoërskool gaan gebruik, uitgedeel te word. Hierdie kaarte kan ook afgelaai word vanaf die GO GEORGE-webwerf deur die School Routes-bladsy te besoek.

Leerders word aangeraai om die beste opklimtyd en roetes om vol busse gedurende spitstyd te vermy met die passasiersdiensbeamptes te bespreek, asook die beste roetes gedurende om vol busse tydens spitstyd te vermy – in die meeste gevalle sal daar verskeie opsies wees.

Die beamptes sal leerders ook herinner aan belangrike Covid-19-veiligheidsregulasies soos die dra van ‘n masker tydens die hele busrit, om vensters oop te hou en die handreiniger wat op die busse verskaf word, te gebruik.

Om ‘n besoek op die skoolterrein en direkte skakeling met die leerders aan te vra, is skole welkom om die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel of ‘n e-pos na info@gogeorge.org.za te stuur.

Latest news