Verjaarsdagbaniere op strategiese plekke in die dorp, GO GEORGE-personeel in helderkleurige kostuums, pompoms en plakkate met verjaarsdagboodskappe, raserige fluitjies… As George-inwoners en vakansiegangers nie reeds in ’n feestelike luim was nie, was hulle dit verseker ná ‘n draai deur die dorp op Vrydag 8 Desember 2017, die GO GEORGE-busdiens se derde verjaarsdag.

Motoriste het meelewend gereageer met ’n vrolike getoet en gewuif, in erkenning van hierdie grootse prestasie vir die stad George.

Die GO GEORGE-span het die kinders by Life Community Services se sentrum in Parkdene verras met ’n besoek van almal se gunsteling-buspersoon, die gelukbringer Georgie, en ’n hele vrag groen en blou kolwyntjies.

“Daar was nie ’n beter manier om ons verjaarsdag te vier, as om ons vreugde met hierdie kleingoed te deel nie,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Om hulle uit volle bors te hoor sing ‘Happy birthday, dear GO GEORGE’, het ons harte warm gemaak en die kersie op ons verjaarsdagkoek geplaas.”

