1. Gedurende watter ure ry die busse?
Busse ry ongeveer 16 ure per dag, sewe dae per week. Frekwensie (hoe gereeld die bus verbykom) sal afhang van aanvraag, met meer busse gedurende spitstye. Tans begin sekere ritte 05:00 in die oggend en die laaste ritte vertrek in die omgewing van 21:00. Tydroosters kan op ons webblad besigtig word by www.gogeorge.org.za, of skakel gerus ons inbelsentrum by 0800 044 044 waar ingeligte agente van 05:00 tot 21:30 beskikbaar is om te help.
2. Ek het ‘n motor – hoekom moet ek liewer ‘n GO GEORGE-bus gebruik?
Openbare vervoer is vriendeliker teenoor die omgewing en meer koste-effektief as ’n private voertuig, dit verminder verkeersopeenhoping en stel die nodigheid om die dra-krag van bestaande padinfrastruktuur op te gradeer, uit.
3. Waar kan ek op ‘n GO GEORGE-bus klim?
Wys op die uitkyk vir bushaltes op roetes regoor die stad. Staan by ’n halte en lig jou hand om vir die busbestuurder aan te dui dat hy moet stop. Maak seker dat jy die regte bus stop – verskeie roetes gebruik dieselfde bushalte.
4. Is die busse veilig en betroubaar?
Ja. GO GEORGE het ’n passasiershandves as ’n verbintenis tot kwaliteit diens aan passasiers opgestel. Jy kan hierdie handves op ons webblad www.gogeorge.org.za onder die afdeling Passenger Info lees. Van busbestuurders word verwag om te alle tye bedagsaam en binne die voorskrifte van die wet te bestuur. Aangesien die busdiens volgens ’n tydrooster ry, word die spoed beperk en outomaties gemoniteer deur middel van ’n elektroniese opspoorstelsel. Indien hierdie voorskrifte nie nagekom word nie, sal die busbedryfsmaatskappy finansiële boetes opgelê word. Ons busse word gereeld gediens en beskik oor binnekringtelevisiekameras en paniekknoppies aan boord, en die wetstoepassingsagentskappe in George werk almal saam om jou veiligheid te alle tye te verseker.
5. Mag my troeteldiere saamry op die bus? En wat van groot stukke bagasie?
Slegs bystandsdiere (soos gidshonde) word toegelaat. Bagasie is toelaatbaar, solank jy dit self kan hanteer en beheer, dit op jou skoot pas en nie ander passasiers verontrief nie.
6. Mag ek na my musiek luister op die bus? En mag ek my kos eet?
Nee, geen eet- of drinkgoed word op die bus toegelaat nie. Uit hoflikheid en respek teenoor ander passasiers moet jy asseblief jou oorfone gebruik om na musiek te luister. Moet asseblief niks op die bus doen wat ander verontrief, ongemaklik maak of aanstoot gee nie. Maak seker dat jy die GO GEORGE-vervoerreëls ken – dit is daargestel om seker te maak dat almal hul reis kan geniet. Passasiers kan beboet word indien hulle hierdie reëls ignoreer. Afskrifte van die reëls verskyn binne-in al die busse, asook op ons webblad: www.gogeorge.org.za, onder die afdeling Passenger Info.
7. Kan rolstoelgebruikers en mense met spesiale behoeftes die GO GEORGE-busse gebruik?
Ja. Die stelsel is ontwikkel om so universeel toeganklik moontlik te wees vir alle gebruikers. Dus is spesifieke ontwerpveranderings aangebring om te verseker dat dit so maklik moontlik sal wees vir passasiers met spesiale kategorieë behoeftes om die diens te gebruik. Amper-gelyke opklimvlakke vanaf bushaltes tot op die groter busse is beskikbaar, terwyl die kleiner minibus ’n hyser ontplooi vir toegang. Geriffelde plaveisel by bushaltes help gesiggestremde passasiers om hul pad te vind, terwyl gereserveerde ruimtes op die busse is geskep om beweeglikheidstoerusting soos rolstoele, sekere scooters en ander loophulpmiddels te akkommodeer. George is tans die enigste stad in Suid-Afrika met ’n ten volle toeganklike busvloot.
8. Wat beteken dit om oor te klim tussen busse om my bestemming te bereik?
GO GEORGE is ’n netwerk. Afhangende van waarheen jy gaan, mag dit nodig wees om van een bus op ’n ander oor te klim om by jou bestemming uit te kom. Dit is belangrik om die kruising van roetes te leer ken sodat jy jou oorklim kan beplan. Dit is uiters noodsaaklik dat jy jou rit beplan met behulp van die GO GEORGE-kaarte en -tydroosters voordat jy vertrek. Jy kan by enige punt waar roetes bymekaarkom, oorklim, maar daar is gerieflike oorklimpunte wat op die stelselkaart aangedui word. Wanneer jy by ’n oorklimpunt van ’n bus afklim, maak seker dat by die regte bushalte staan vir die volgende been van jou rit. Dit mag nodig wees om oor die straat te loop om die regte bus wat in die regte rigting vir jou ry, by ’n ander halte te haal. Elke kaartjie is geldig vir een uur vanaf die tyd wat dit gestempel is totdat jy op die laaste bus na jou bestemming klim, waar jy dit vir die busbestuurder moet gee om die stempel na te gaan. Oorklim is gratis indien jou kaartjie nog geldig is. Deur tussen busse oor te klim, help jy ons om die stelsel meer doeltreffend te maak en die kaartjiepryse bekostigbaar te hou. As jy onseker is oor waar om oor te klim op ’n volgende roete, vra jou busbestuurder, of skakel ons inbelsentrum by 0800 044 044 vir hulp om jou roete te beplan voordat jy bushalte toe gaan.
9. Wat is ‘n tweerigtingroete?
Alle roetes is eintlik tweerigting – hulle ry in albei rigtings. In die konteks van ons beskrywings verwys die term egter spesifiek na roetes wat in die rondte ry. ’n Tweerigting-sirkel beteken jy kan op die bus klim op enige plek op die roete, aan enige kant van die pad, en sal uiteindelik weer eindig waar jy begin het. Die idee is dat jy as passasier kan besluit watter rigting jou die vinnigste by jou bestemming sal uitbring, hoewel albei rigtings jou daar sal kry.
10. Hoekom moet ek soms staan op die bus terwyl ander kan sit?
Gedurende spitstye word passasiers aangemoedig om ’n staanplek in te neem as dit sal help om jou vinniger by jou bestemming te kry, eerder as om te wag vir ’n volgende bus met sitplek. Die standaard- en midibus is nie vol totdat al die sitplekke geneem is EN volle staande kapasiteit bereik is nie. Die toegelate aantal sittende en staande passasiers word aangedui op elke bus. Busbestuurders is verplig om by alle bushaltes op hul roete te stop totdat die bus vol is, indien daar passasiers wag om op te klim. Versuim om wagtende passasiers op te laai terwyl die bus nog nie volle kapasiteit bereik het nie, is onbedagsaam, onaanvaarbaar en ’n oortreding van die GO GEORGE-kontrakvoorwaardes. Terwyl die busbedryfsmaatskappy beboet kan word in so ’n geval, dra versuim om die busse vol te maak ook by tot die koste van die verskaffing van die diens, en moontlik tot die koste van jou kaartjie. Passasiers mag staan op die laer vlak in die standaard- en midibusse, maar nie op minibusse nie.
11. Waar kan ek meer inligting kry of kommentaar lewer op GO GEORGE?
Jou terugvoer oor die GO GEORGE-busdiens is vir ons baie waardevol en mag oorweeg word vir moontlike verbeterings of aanpassings aan ons stelsel om te verseker dat ons ’n doeltreffende diens lewer. Ons wil jou aanmoedig om die GO GEORGE-inbelsentrum (tolvry vanaf landlyne) by 0800 044 044 tussen 05:00 en 21:30 – sewe dae per week – te skakel. Hier is goedingeligte agente wat jou met graagte sal help. Jy kan ook ’n e-pos stuur na info@gogeorge.org.za. ‘n Baie goeie manier om op hoogte van daaglikse nuus en kennisgewings oor die stelsel te bly, is om in te skakel by ons Facebook-blad.