Drie in hegtenis geneem vir beskadiging van GO GEORGE-busse

3
Feb '21
Vandalism stone throwing
Die vervanging van gebreekte busvensters is 'n baie duur oefening en neem busse uit diens terwyl dit herstel word. Dit plaas druk op die stelsel en skedule, wat 'n impak op diens aan passasiers het.

Skade aan munisipale eiendom is ernstig; dit is ‘n kriminele oortreding en sal lei tot ‘n kriminele rekord.

Drie mans is verlede week deur die Pacaltsdorp-polisie in hegtenis geneem nadat hulle ‘n GO GEORGE-bus in Delvillepark met klippe gegooi het, die agterste venster beskadig het en tydelike opskorting van die Pacaltsdorp-gemeenskapsroete tot gevolg gehad het. Hierdie was een van drie voorvalle van klipgooiery na busse Vrydag.

Vandalisering van GO GEORGE-busse en -infrastruktuur is ‘n groot uitdaging sedert die busdiens ontplooi is en is selfs erger sedert die installering van busskuilings met operasionele inligting wat aan die binnekant aangebring word. Dit, asook gebreekte glaspanele, word voortdurend teen groot koste aan die munisipaliteit vervang.

James Robb, GO GEORGE-bestuurder, sê mense verstaan nie die gevolge van hierdie soort gedrag nie. “Ons het almal nodig om te besef dat kwaadwillige skade aan munisipale eiendom ‘n baie ernstige saak is; dit is ‘n kriminele oortreding en sal lei tot ‘n kriminele rekord wanneer iemand skuldig bevind word. Dieselfde geld vir mense wat klippe na die busse gooi – ons het verlede week drie sulke voorvalle gehad en vyf gedurende Januarie alleen. Verlede jaar is 18 voorvalle van klipgooiery en skade aan busse aangemeld.

“Voorts plaas voorvalle van vandalisme, insluitend klipgooiery, die lewens van passasiers en busbestuurders in gevaar, en verontrief dit passasiers wat weens beskadigde skuilings onaangename weersomstandighede soos wind en reën moet verduur terwyl hulle vir ‘n bus wag. Hierdie sinnelose dade van vandalisme kos ‘n fortuin om aan te hou vervang en herstel. In die geval van beskadigde busse moet ons daardie voertuie uit diens haal om te herstel, soms vir etlike dae, wat vertragings en kapasiteitsprobleme met minder busse op die roete veroorsaak.”

Volgens dr. Michele Gratz, waarnemende munisipale bestuurder, is die drie mans binne minute nadat hulle die oproep ontvang het, deur die munisipaliteit se vinnige-reaksie-eenheid aangekeer en aan die polisie oorhandig. “Die munisipaliteit het ‘n zero-verdraagsaamheidsbenadering tot misdaad en sal nou met die SAPD saamwerk om hierdie sake die hoof te bied. Vandale word gewaarsku dat alles moontlik gedoen sal word om hul inhegtenisneming en suksesvolle vervolging te verseker.

“Ons doen ‘n beroep op die George-gemeenskap om hande te vat en te help om GO GEORGE-voertuie en munisipale infrastruktuur te beskerm. Meld asseblief enige dade van vandalisme aan en help veral om sulke dade te voorkom,” het sy gesê.

Lede van die publiek word versoek om mense aan te meld wat aan infrastruktuur of busse peuter, dit verf of beskadig, terwyl dit plaasvind en met soveel inligting as moontlik, deur George-munisipaliteit se Wetstoepassingsafdeling by 044 801 6350 of 044 801 6300 (na-ure) te skakel, of die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044.

Vandalism shelters
Dit verg inspanning om die skuilingpanele te breek. Versterkte materiaal is getoets en word nou gebruik om panele te vervang wat om veiligheidsredes verkieslik deursigtig moet wees.
Vandalism panels
Die vinielplakkers met passasiersinligting word herhaaldelik afgeskeur.

 

Latest news