Ekstra ritte en verlengde ure gedurende die feesseisoen vir Pacaltsdorp-passasiers wat by die Garden Route Mall werk, midibusse pleks van minibusse op besige roetes en ‘n passasiersvriendelike gemeenskapsroete – hierdie is net sommige van die veranderings wat GO GEORGE op Sondag 18 Desember 2016 sal implementeer. Die feesseisoen-aanpassings sal geld vanaf 18 Desember tot 8 Januarie 2017.
Die veranderings is gebaseer op passasiersaanvraag en behoort verskeie kwessies wat in die laaste tyd deur passasiers uitgelig is, aan te spreek.
Pacaltsdorp – Garden Route Mall
Roete 12 Pacaltsdorp – Garden Route Mall is op verskeie maniere verfyn.
Eerstens sal hierdie roete voortaan met slegs midibusse ry van Maandae tot Saterdae, om genoeg kapasiteit te verseker vir Pacaltsdorpers om betyds vir werk by die Mall aan te kom. Die skedule verander effens met die eerste bus wat voortaan om 06:30 sal vertrek vanaf die Heather-bushalte, en nie meer om 06:20 soos wat nou die geval is nie. Die eerste twee ritte van die dag word egter tans met minibusse gedoen, en met al die ritte wat voortaan deur midibusse bedien gaan word, behoort kapasiteitsprobleme gedurende spitstye iets van die verlede te wees. Op Sondae gaan ‘n mengsel van mini- en midibusse gebruik word, geskeduleer volgens aanvraag, maar die goeie nuus vir mense wat graag wil gaan inkopies doen, is dat alle Sondagritte gedurende die feesseisoen met midibusse gedoen sal word.
Tweedens word operasionele ure op Roete 12 vir die feesseisoen verleng om die langer besigheidsure van winkels in die Garden Route Mall en Eden Meander te akkommodeer. Van 18 Desember 2016 tot 8 Januarie 2017 sal die laaste bus van die dag om 20:55 by die Mall vertrek, een uur later as gewoonlik. Terselfdertyd is ekstra ritte op hierdie roete bygevoeg, slegs vir hierdie tydperk, met ’n bus wat elke 20 minute pleks van elke 40 minute vertrek, regdeur die dag, die hele week.
Rosemoor
Die nuwe byvoegings op die Rosemoor-roetes, Roetes 53A (weeksdae) en 53B (Saterdae), word herlei om deur Triumphstraat te ry, soos wat die aanvanklike plan was. Opgradering van Triumphstraat is nou afgehandel en hierdie twee vinniger, korter roetes sal voortaan met ‘n langer deel van Beerstraat langs ry. Inwoners wat naby Beerstraat woon, word aangemoedig om hierdie roetes pleks van die langer Roete 53 te gebruik. Twee nuwe bushaltes is in Rietbokstraat naby die aansluiting met Triumphstraat gebou om hierdie roete te bedien.
Aangesien die Rosemoor-roetes deesdae die pad agter Eden Meander gebruik, is nog ‘n nuwe bushalte, Eden Meander, naby die Blue Mountain-ingang gebou.
Denneoord
Passasiers wat Roete 56 CBD – Denneoord gebruik, sal bly wees om te verneem dat midibusse pleks van minibusse voortaan gedurende spitstye ingespan gaan word.
Skeduleveranderings
Om geriefliker oorklim tussen verskillende roetes te verseker, is sekere tydroosterveranderings aangebring op Roetes 7 CBD – Garden Route Mall, 56 CBD – Denneoord, 13 City Loop, 12 Pacaltsdorp – Garden Route Mall en 53 Rosemoor (onder andere die terugbring van die rit wat 05:00 by die Mall vertrek). Hierdie tydroosters word in gedrukte formaat aan passasiers uitgedeel. Enige persoon wat nog nie een ontvang het nie, kan gerus ‘n afskrif gaan haal by die GO GEORGE-inligtingskiosk in Cradockstraat by die vervoerkern (Hub), die inbelsentrum skakel by 0800 044 044.