Die Stad George was verlede week vir die eerste keer die gasheer van ’n nasionale vervoerforum-vergadering (NVF) waartydens 25 afgevaardigdes met Tuinroete-gasvryheid kon kennis maak.

Die NVF is ’n forum wat tot stand gebring is deur die departement van vervoer en bestaan uit vaardige, ervare lede uit die nasionale, provinsiale en plaaslike regering, ondernemings in staatsbesit, vervoeragentskappe en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regering-vereniging (Salga). Die doel van die forum is om alle vlakke van regering by te staan en te lei in die beplanning en implementering van geïntegreerde, volhoubare vervoerprojekte en programme.

Die George-munisipaliteit is deel van die beleid- en strategie-werkstroom van die forum, en het ’n visuele aanbieding oor die agtergrond en ontwikkeling van die GO GEORGE-busdiens gedoen. Die afgevaardigdes is Woensdagaand op ’n busrit deur die dorp geneem en het ook die nuwe George-vervoerkern (hub) besoek waar hulle vrae kon vra oor die stelsel en die vereiste infrastruktuur.