GO GEORGE pas roetes aan vir Outeniqua-rolstoeluitdaging – 18 Februarie

15
Feb '17
Outeniqua Wheelchair Challenge

Die GO GEORGE-busdiens sal tydelike aanpassings maak aan sekere roetes om die Outeniqua-rolstoelmarathon wat Saterdag, 18 Februarie 2017, plaasvind, te akkommodeer. ’n Gedeelte van Yorkstraat sal gesluit wees, en verkeer sal beperk word tot een baan in Beachweg, Pacaltsdorp.

Pacaltsdorp-roetes dorp toe sal Vrydag, 17 Februarie 2017, vanaf 10:00 ’n effense ompad ry via Hoop- en Langstraat terug na Yorkstraat, en Saterdag vanaf 06:00 – 17:00 herlei word via PW Bothaboulevard. Die res van die roetes wat aangepas word, word Saterdag vanaf 06:00 tot 13:00 geraak. Passasiers word versoek om die onderstaande verduidelikings van die veranderings te bestudeer, en word aangemoedig om die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel indien hulle onseker is, of hulp benodig om hul ritte voor dié dag te beplan.

Outeniqua Wheelchair Challenge

Tydelike bushaltes in Meadestraat vir Yorkstraat-passasiers

Tydelike bushaltes sal in Meadestraat aangebring word vir passasiers wat gewoonlik die haltes in Yorkstraat gebruik. Hierdie bushaltes sal by die volgende kruisings wees:

  • h/v Meade- en Palgravestraat
  • h/v Meade- en Fichatstraat
  • h/v Meadestraat en Nelson Mandelaboulevard
  • h/v Meadestraat en Donerailleplein (naby die kruising met Markstraat)

Roetes 1A New Dawn Park, 1B Harmony Park, 60 Rosedale en 60A Syferfontein/Rosedale

Roetes 1A New Dawn Park, 1B Harmony Park, 60 Rosedale en 60A Syferfontein/Rosedale sal almal die normale roete volg tot by die verkeerslig by Stanmar Motors, waar hulle regs sal draai. Hierdie busse ry dan voort in PW Bothaboulevard, draai links in Randstraat, ry aan tot in Uniestraat en draai regs in Meadestraat, ry aan tot by Courtenaystraat waar hulle regs draai en verder die normale roete om die superblok ry. Die roete terug is via Meadestraat pleks van Yorkstraat, en sal dieselfde ompad volg tot in Beachweg, waar hulle sal voortgaan op hul normale roetes.

Roete 2 Blanco

Roete 2 Blanco sal die normale roete volg tot in die middedorp. Die roete terug sal met Markstraat langs loop, regs draai in Meadestraat, links in Hiberniastraat en oor Yorkstraat terug Blanco toe.

Roetes 53 en 53B Rosemoor

Roetes 53 en 53B Rosemoor sal soos gewoonlik met Courtenaystraat dorp toe ry, maar links draai in Meadestraat pleks van Yorkstraat, en weer links in Markstraat na die bushalte in Cradockstraat. Die normale roete terug Garden Route Mall toe sal gebruik word.

Roete 9 Industrial Loop

Roete 9 Industrial Loop sal herlei word aangesien Yorkstraat sowel as die boonste gedeelte van Hoopstraat ontoeganklik sal wees. Die kloksgewyse roete sal volgens die normale roete ry uit die middedorp uit, maar net voor die kruising van PW Bothaboulevard met Yorkstraat by Stanmar Motors, ’n wye U-draai maak deur regs te draai in Pearlstraat, regs in Ossie Urbanstraat en links in PW Bothaboulevard. Daarna draai die bus links in Randstraat, links in Ringweg, links in Randstraat en dan regs in Hoopstraat op die normale roete terug middedorp toe.

Roete 9R Industrial Loop

Roete 9R Industrial Loop, die antikloksgewyse roete, sal die normale roete volg en links draai in Randstraat uit Hoopstraat uit, regs in Ringweg en van daar af PW Bothaboulevard toe. Hierdie roete sal dieselfde U-draai maak via Pearlstraat en met PW Bothaboulevard voortry op die normale roete.

Roete 56 Denneoord

Roete 56 Denneoord sal uit Markstraat regs draai in Meadestraat pleks van Yorkstraat, links in Courtenaystraat na die sirkel toe, en van daar af die normale roete volg.

Roete 56R Denneoord

Roete 56R Denneoord, die antikloksgewyse roete, sal die normale roete volg tot by die sirkel, dan langs Courtenaystraat af ry en regs draai in Meadestraat, en links in Markstraat na die bushalte in Cradockstraat.

Roete 13 City Loop

Roete 13 City Loop mag vertragings beleef aangesien hierdie roete Yorkstraat moet kruis tussen Plattnerboulevard en Uniestraat. Die verkeer sal deur beamptes beheer word, met voorkeur aan die rolstoelatlete.

Roete 12 Pacaltsdorp – Garden Route Mall

Roete 12 Pacaltsdorp – Garden Route Mall mag ook vertragings beleef aangesien die marathonroete die brug oor die N2 by Stanmar Motors kruis.

Vertragings mag voorkom op al die roetes wat geraak word deur die wedren weens verkeer wat herlei word en opeenhopings by die kruisings met Yorkstraat, sowel as langer afstande wat met die ompaaie afgelê moet word. Geen ander roetes sal geraak word nie.

 

Latest news