GO GEORGE berei voor om Fase 4B uit te rol

GO GEORGE Bus

Die kenmerkende GO GEORGE-busse sal een van die dae ’n algemene gesig wees in die omgewing van Conville, Parkdene, Ballotsview, Borcherds en Lawaaikamp.

Sedert die aankondiging verlede week dat die GO GEORGE-busdiens uiteindelik sal uitrol na Conville, Parkdene, Ballotsview, Borcherds en Lawaaikamp op Sondag 22 Maart 2020, is almal aan dek om hierdie keer ‘n gladde toetrede te verseker, nadat die beplande ontplooiing in April verlede jaar drie dae voor die tyd uitgestel is.

Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, is die hele span gereed om weg te spring. “Uitrolplanne is geaktiveer die oomblik toe die aankondiging deurkom; die opwinding en energievlakke in ons kantore en vergaderings is tasbaar – ons wil die busse na die mense toe neem!” sê hy.

“Ons besef die gemeenskap was bitterlik teleurgesteld verlede jaar toe die beplande ontplooiing nie plaasvind nie, maar ons hoop om met dieselfde entoesiasme as die vorige keer ontvang te word wanneer ons passasiersdiensbeamptes (champions) binnekort weer die woonbuurte besoek.”

Vier roetes

Die vier roetes is Parkdene – CBD (roete 15), Parkdene – Garden Route Mall (roete 16), Parkdene – Blanco (roete 18), en ‘n omvattende gemeenskapsroete (roete 51) wat die strate van Conville, Parkdene, Ballotsview, Lawaaikamp en Borcherds sal deurkruis. Dit sal hierdie woonbuurte verbind met bestaande GO GEORGE-roetes wat in en tussen die middedorp, Pacaltsdorp, Denneoord, Rosemoor, Blanco, Heatherlands, Heatherpark en die Garden Route Mall ry.

Deur-tot-deur besoeke

Die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes sal binne die volgende week met ‘n eerste rondte van deur-tot-deur besoeke begin om die gemeenskap se kennis en begrip van die busdiens te verfris en weer gedrukte inligtingsmateriaal uit te deel. Die handige gebruikersgids en tydroosters sal voornemende passasiers in staat stel om hul roetes en reise te beplan. Terselfdertyd sal die GO GEORGE-kommunikasiespan klinieke, biblioteke en sentrale plekke van samekoms besoek om groter groepe met hierdie inligting te bereik en hul vrae te beantwoord.

Kontak GO GEORGE deur die inbelsentrum by 0800 044 044 te bel, per e-pos (info@gogeorge.org.za) of volg die GO GEORGE Facebook-blad om op datum te bly metontwikkelinge.


Previous Article

Next Article